Vier van Eskom se kragopwekkers, wat vandeesweek tegniese probleme ondervind het, is nog steeds buite werking.
Eskom moes Vrydag vir die tweede keer vandeesweek tussen 16:00 en 21:00 ʼn noodtoestand aankondig. Die noodtoestand is net voor 21:00 Vrydagaand opgehef.
Eskom het Donderdag gesê die noodreserwemarges is baie laag en die stelsel bly onstabiel.
Alhoewel die noodtoestand opgehef is, het Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom, verbruikers versoek om elektrisiteit steeds spaarsamig te gebruik. Hy het die publiek bedank vir hul samewerking.
Daar word tans instandhoudingswerk en herstelwerk gedoen aan die vier kragopwekkers en dit sal na verwagting gedurende volgende week afgehandel wees.
Eskom het skedules vir beurtkrag op sy webwerf gepubliseer, maar gesê dit word net as ʼn “voorsorgmaatreël” gedoen.