Eskom se salarisverhoging stel teleur

EskomDie vakbond Solidariteit het vandag sy teleurstelling uitgespreek oor Eskom se 5,6%-verhoging op sy werknemers se basiese salaris in die 2013/2014-boekjaar. Met bykomende items kom dit op ʼn gemiddelde verhoging van 6,3% op die totale pakket neer.

Deon Reyneke, hoof van Solidariteit se Metaal-, Ingenieurs- en Elektriese Bedryf, sê Eskom se verhoging is teleurstellend aangesien dit laer is as die gemiddelde verhogings wat verlede jaar tydens onderhandelings met ander werkgewers behaal is. “Solidariteit was steeds bereid om met Eskom te onderhandel toe die kragreus ʼn dooiepunt verklaar het en die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys het. Die verhoging wat nou terugwerkend vanaf 1 Julie 2013 ingestel sal word, is eenvoudig dieselfde verhoging waarmee Eskom van die onderhandelingstafel weggedraai het.”

Reyneke sê Solidariteit kon wel daarin slaag om Eskom se aanvanklike eis vir ʼn vyfjaar-ooreenkoms van die baan te kry. “Ons is hoopvol dat wanneer salarisonderhandelinge vir die volgende boekjaar binnekort begin ons ʼn gunstige ooreenkoms vir ons lede sal kan bereik sonder dat dit ʼn onnodig uitgerekte proses hoef te wees.”
Eskom skryf sy karige salarisverhoging toe aan die feit dat Nersa die elektrisiteitsreus se aansoek vir ’n 16%-tariefverhoging verwerp en slegs 8% toegestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.