Eskom-tariefverhoging onvermydelik, sê vakbond

Met die jongste elektrisiteitstariefaansoek maak Eskom die Suid-Afrikaanse publiek ʼn aanbod wat hulle nie kan weier nie, aangesien hulle geen ander keuse het as om elektrisiteit vanaf Eskom te koop nie.

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag gesê Suid-Afrika se elektrisiteitverbruikers, met inbegrip van beide huishoudings en groot industriële verbruikers, moet die vryheid hê om hul tevredenheid of ontevredenheid met elektrisiteitspryse te wys deur hul koopkrag van een elektrisiteitsvervaardiger na ’n ander te skuif. “Eskom het in wese ’n gewettigde monopolie op elektrisiteitsopwekking en die transmissienetwerk. Gevolglik word foute wat Eskom of die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) begaan, oplaas noodwendig op  Suid-Afrikaanse elektrisiteitsverbruikers afgedwing. Verbruikers het, buiten die opsie om hul eie krag op te wek, geen ander keuse as om elektrisiteit by Eskom te koop nie,” het Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Joubert sê ongeag wat Nersa se finale besluit oor Eskom se derde veeljarige prysvasstelling (MYPD3) ook al mag wees, dit ’n aanbod sal wees wat Suid-Afrika nie kan weier nie. “Hierin, en nie in die besonderhede van die tariewe wat in die MYPD3-aansoek aangevra word nie, lê die wesenlike probleem: die monopolistiese struktuur van elektrisiteitsopwekking en -transmissie in ’n enkele entiteit. Die struktuur van die elektrisiteitsmark beteken dat dit onmoontlik is om te weet of die pryse waarop Eskom en Nersa besluit, ‘reg’ is of nie, aangesien die mark se vermoë om die ‘regte’ prys te bepaal deur verbruikers ’n keuse te gee, heeltemal onderdruk word.”

Hy sê voorts hoewel Eskom en Nersa tans probeer bepaal wat ’n “gepaste” verhoging van elektrisiteitstariewe oor die volgende vyf jaar sal wees, dit uiters moeilik, of selfs onmoontlik, is om ’n menigte veranderlikes oor so ’n lang tydperk met enige mate van akkuraatheid te voorspel. “As Eskom of Nersa se vermoë om voorspellings te maak toevallig uitstekend was, sou Eskom se monopolie op elektrisiteitsopwekking en -transmissie nie so ’n groot probleem gewees het nie. As ’n vergelyking getref word tussen voorspellings wat beide Eskom en Nersa in die verlede gemaak het en wat in werklikheid gebeur het, blyk dit egter duidelik dat hulle nie baie goed is daarmee om akkurate voorspellings selfs oor ’n tydperk van twee of drie jaar te maak nie – om nie eers te praat van voorspellings wat oor vyf jaar of etlike dekades strek nie.”

Volgens Joubert beteken dit nie noodwendig dat Eskom of Nersa besonder swak is wanneer dit by die voorspelling van ekonomiese en finansiële veranderlikes kom nie – dit wys bloot hoe moeilik dit is om sulke voorspellings te maak. “Deur ander moontlike beleggers in die elektrisiteitsopwekkingsmark se vryheid om hierdie voorspellings te klop, te beperk en moontlik weens beter vermoë voordeel te trek, tree Eskom, Nersa en die regering tot nadeel van Suid-Afrikaanse verbruikers op. Derhalwe stel Solidariteit voor dat die ruimte geskep moet word vir onafhanklike elektrisiteitsprodusente om direk ooreenkomste met verbruikers of plaaslike elektrisiteitsverspreiders te sluit, en dat Eskom se rol in sulke transaksies beperk moet wees tot die fasilitering van die ‘wheeling’ van die elektrisiteit oor die transmissienetwerk vir ’n nominale fooi. Dit moet gedoen word met die oog daarop om Eskom se opwekkings- en transmissieafdelings so gou as wat prakties moontlik is, in aparte entiteite te verdeel. So ʼn verdeling sal ’n transmissiegesag tot stand bring wat meer onpartydig sal wees oor of die krag op die netwerk deur Eskom of deur ’n onafhanklike produsent opgewek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.