Eswatini (voorheen Swaziland), die laaste absolute monargie in Afrika, het verlede week se parlementêre verkiesing as ʼn “reusesukses” bestempel wat “vry en regverdig” gedoen is.
Dít ondanks die regulasie dat kandidate wat verbind word met politieke partye verbied is om daaraan deel te neem.
Luidens die verkiesingsuitslae is 51 mans en agt vroue verkies om lede van die laerhuis van die parlement te wees. Koning Mswati III verkies regstreeks nog tien wetgewers, maar dit is onduidelik wanneer hierdie mense verkies gaan word.
Die lede vervul slegs ʼn raadgewende rol vir Mswati wat by magte is om enige wetgewing tersyde te stel. Mswati stel ook die eerste minister en die kabinet aan, kan die parlement en die regering ontbind en beheer die polisie en die weermag.
Die regering het die verkiesing geloof vir die “demokratiese aard” daarvan.
“Die regering is baie gelukkig om te bevestig dat die algemene nasionale verkiesing ʼn reusesukses was,” het Alpheous Nxumalo, woordvoerder van die regering, gesê.
Eswatini is in 2021 geruk deur betogings wat gelei is deur kampvegters vir demokrasie. Tientalle mense is dood toe veiligheidsmagte die betogings beëindig het.
Vrydag se verkiesing het egter sonder voorval plaasgevind. ʼn Lid van die Afrika-unie, wat die verkiesing waargeneem het, het opgemerk dat dit “oor die algemeen op ʼn vreedsame manier” plaasgevind het.
His Majesty King Mswati III says emaSwati should vote for people who will ensure that the kingdom remains peaceful; who love Eswatini and the nation, and who will continue to advance the kingdom’s development aspirations. #NgeteNgasalaNasakhaLiveLetfu pic.twitter.com/eY0rWj0NS2
— Eswatini Government (@EswatiniGovern1) September 29, 2023
Meer as 500 000 mense was geregistreer om te stem, maar dit is nie bekend hoeveel presies aan die verkiesing deelgeneem het nie. Die verkiesing- en grensekommissie moet nog amptelike syfers verskaf.
Volgens ʼn plaaslike bestuurder by ʼn stempunt in Mbabane het minder as ʼn derde van die mense wat daar geregistreer is, Vrydag eindelik opgedaag om te stem.
Die nuwe parlement sal waarskynlik geen wesenlike verandering aan die politieke klimaat van die land maak nie.
Wat n skande dat hierdie man op sy troon sit en teer op die SA belastingbetaler. Sies ANC!!
Absoluut, die beste van alles is Swaziland teer op ons en nogtans moet ons ‘n paspoort hê om die land te besoek.