ET-moordverhoor tot aanstaande jaar uitgestel

Die vermoorde Eugene Terre'Blanche. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die Eugene Terre’Blanche-moordverhoor is tot volgende jaar uitgestel in die rondgaande hof in Ventersdorp.

Chris Mahlangu en ʼn minderjarige word daarvan beskuldig dat hulle Terre’Blanche op 3 April verlede jaar op sy plaas buite Ventersdorp vermoor het. Mahlangu het Donderdag ter elfde uur ʼn dringende aansoek voor die hof gebring om na ʼn polisiestasie in Pretoria verplaas te word sodat sy familie hom kan besoek. Die regter het egter vir Mahlangu gesê om die aansoek by die polisie in te dien. Die saak is uitgestel tot 30 Januarie 2012.

Die hof het Donderdag gehoor dat daar nie ʼn patoloog gekontak is om die moordtoneel na te gaan nie. Die patoloog, dr Ruweida Moorad, sê dit is vreemd dat daar nie ʼn patoloog gekontak is nie aangesien dit so hoë-profiel saak is. Moorad het getuig dat semen, wat glo op ʼn foto van Terre’Blanche se lyk gesien kan word, moontlik afgevee is voor die nadoodse ondersoek gedoen is. Moorad sê die semen is dalk afgevee toe Terre’Blanche se lyk vervoer is. Die staat ondervra Moorad oor haar nadoodse ondersoek van Terre’Blanche. Die semen wat glo sigbaar is op foto’s wat van Terre’Blanche se lyk geneem is, was glo nie sigbaar met Moorad se ondersoek nie. Moorad sê die nadoodse ondersoek is op 6 April 2010 gedoen, drie dae na Terre’Blanche se moord. Sy het verder getuig daaar geen beserings was aan Terre’Blanche se rektum nie maar wel ʼn stukkende plek was op die regterkant van sy skrotum. Moorad sê Terre’Blanche het waarskynlik gelê toe hy ʼn hou teen die kop gegee is. Sy het die wond beskryf en gesê sy glo dit is die eerste wond wat hy opgedoen het tydens die aanval. Moorad sê dit blyk nie of Terre’Blanche sy aanvallers probeer afweer het nie. Sy het saamgestem dat Terre’Blanche se wonde konsekwent is met wonde wat deur ʼn panga aangerig is

ʼn Polisiebeampte, kapt. Maans Louw het Woensdag getuig dat die aanval op Terre’Blanche ʼn baie wrede plaasaanval was. Louw was nie by die ondersoek betrokke nie maar was op die moordtoneel. Die minderjarige beskuldigde se regsverteenwoordiger, Zola Majavu, het Louw gevra hoekom hy Woensdag vir die eerste keer in die hof genoem het dat iets wat soos semen lyk op Terre’Blanche se lyk gesien is. Majavu het Louw daarvan beskuldig dat hy dit nie in sy verklaring wou skryf nie aangesien hy nie die oorledene se familie in die verleentheid wou stel nie. Louw het egter aangevoer hy is net gevra om ʼn verklaring te skryf oor wat met die lyk gebeur het nadat hy op die toneel aangekom het.

Nog ʼn polisiebeampte, ao. Bobby Sephiphi, het Woensdag getuig dat ʼn blou onderbroek en die semen wat op Terre’Blanche se private dele gevind is nooit vir forensiese toetse gestuur is nie. Sephiphi het egter nooit die blou onderbroek genoem in sy verklaring nie. Majavu het Sephiphi gevra hoekom hy nie die onderbroek in sy verklaring genoem het nie. Sephiphi het geantwoord die onderbroek is op die bed se kopstuk gehang om droog te word. Majavu het toe gevra of dit normaal is vir iemand om nie onderklere te dra nie. Sephiphi het geantwoord dat sommige mense onderklere dra en ander nie. Die ander beskuldigde Chris Mahlangu, se regsverteenwoordiger, adv. Khomotso Tlouane, het aan die hof gesê dat Mahlangu sal uitsluitsel gee oor hoe die sperm op Terre’Blanche se private dele daar gekom het. Die minderjarige en Mahlangu word aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.