ET se huwelik, karakter onder skoot

Eugene Terre'Blanche. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die vermoorde AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, se huwelik en karakter het onder skoot gekom Dinsdag tydens die verhoor van sy twee vermeende moordenaars in die rondgaande hof in Ventersdorp.

Chris Mahlangu en ʼn minderjarige word aangekla van Terre’Blanche se moord in April 2010. Die minderjarige se regsverteenwoordiger, Norman Arendse, het aan Terre’Blanche se weduwee, Martie, gevra of dit waar is dat sy en haar oorlede man nie saamgebly het as man en vrou nie. Martie het dit ontken en gesê Eugene het op die plaas buite die dorp gebly as daar werk was om te doen. Martie het in 2010 gedreig om Eugene te skei. “Ek het hom gedreig een dag en hy het gesê sy lewe sal uitmekaar val. Ek sou hom nooit skei nie.” Martie sê sy het nie daarvan gehou as hy gedrink het nie. Mahlangu se regsverteenwoordiger, Kgomotso Tlouane, het Martie vroeër uitgevra oor die twee beskuldigdes se lewensomstandighede, die kos wat hulle geëet het en hoe hulle betaal is. Martie sê Eugene het sy werkers nooit op vrydae betaal nie aangesien hulle dan al hulle geld oor die naweek spandeer het.
Martie sê sy het geweet dat Mahlangu se salaris minder as die minimumloon was maar dat hy bereid was om daarvoor te werk. Tlouane het ook aangevoer dat Mahlangu voor en op die dag van die moord gesodomiseer is.

Intussen het die hof gehoor dat die ma van die minderjarige teenwoordig was toe hy die misdaadtoneel uitgewys het. Lt Kol Frans Jacobs het Dinsdag in ʼn verhoor binne ʼn verhoor getuig rakende die geldigheid van bewyse wat deur twee beskuldigdes gegee is. Mahlangu en die regsverteenwoordigers eis dat hulle bekentenisse en die uitwys van die misdaadtoneel nie deel uitmaak van die verhoor nie.

‘n Groep inwoners het Dinsdag voor die hof bymekaargekom. Die groep het plakkate rondgeswaai wat onder meer gelees het: “Rus in die hel Eugene”, “AWB is dood”, “Ons is gatvol met die boere” en “Mahlangu is ʼn vryheidsvegter.” Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.