ET-uitspraak volgende maand verwag

Eugene Terre'Blanche. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die verhoor van twee mense wat beskuldig word van die moord op Eugene Terre’Blanche is Donderdag in die rondgaande hof in Ventersdorp uitgestel tot aanstaande maand wanneer uitspraak gelewer sal word.

Regter John Horn het die saak tot 22 Mei uitgestel wanneer hy sy uitspraak sal lewer. Chris Mahlangu en ʼn jeugdige word beskuldig van die moord op Terre’Blanche op sy plaas buite Ventersdorp op 3 April 2010. Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Mahlangu en die jeugdige het nie getuig nie. Die staat en die verdediging het verlede week hul sake afgesluit. Regter Horn het die jeugdige, wat Sondag sy 18de verjaarsdag vier, ʼn gelukkige verjaarsdag toegewens. Die jeugdige se regsverteenwoordiger, Norman Arendse, het vroeër Donderdag tydens sy slotbetoë aangevoer dat werkers op Terre’Blanche se plaas uitgebuit is. Hy het ook gesê dat Terre’Blanche graag “die reg in eie hande geneem het” met verwysing na die aanranding van ʼn petroljoggie in 1993. Mahlangu se regsverteenwoordiger, Kgomotso Tlouane, het Donderdag weer sy kliënt se bewerings dat hy deur Terre’Blanche gesodomiseer is geopper. Die staat het die bewerings as “opmaak-stories” afgemaak. Die staat het gevra dat albei beskuldigdes skuldig bevind word aan al die aanklagte teen hulle.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.