Eugene de Kock vir parool oorweeg

Eugene de Kock.

Die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock, gaan vir parool oorweeg word het die departement van korrektiewe dienste Woensdag bekendgemaak.

ʼn Woordvoerder, Phumlani Ximiya, sê sy paroolverhoor was veronderstel om Woensdag plaas te vind. Ximiya kon egter nie verduidelik hoekom die verhoor uitgestel is en tot wanneer nie. De Kock is in 1996 twee keer tot lewenslank gevonnis plus nog 212 jaar. Ferdi Barnard, lid van die omstrede Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) uit die apartheidsjare, word saam met De Kock vir parool oorweeg. Barnard is in 1998 twee keer tot lewenslank plus 63 jaar gevonnis. De Kock, Barnard en ʼn groep ander gevangenes word nou vir parool oorweeg ná ʼn uitspraak in Julie vanjaar deur die Hoërhof in Pretoria. Volgens dié uitspraak moet enige persoon wat lewenslank tronkstraf gekry het voor 1 Oktober 2004, outomaties vir parool oorweeg word sodra hulle 13 jaar en vier maande van hul tronkstraf uitgedien het. Gevangenes wat na dié datum lewenslank tronkstraf ontvang het met ‘n minimum van 20 jaar van hul tronkstraf uitgedien het voor hulle vir parool in aanmerking kom.

Ximiya sê die standaard prosedure vir ʼn paroolaansoek behels dat ‘n komitee ʼn profiel saamstel van die gevangenes. Dit word aan die paroolraad oorhandig wat dan moet besluit of die gevangenes kwalifiseer vir parool in terme van sy profiel en ander faktore soos of hy rehabilitasieprogramme bygewoon het. Slagoffers van die betrokke gevangenes kry ook die geleentheid om voorleggings in te dien. Die paroolraad sal dan ʼn voorstel maak aan die nasionale raad, wat op sy beurt ʼn voorstel sal maak aan die minister van korrektiewe dienste wat die finale sê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.