Exxaro-staking beëindig

Die staking by verskeie Exxaro-aanlegte het tot ‘n einde gekom toe die werkers ingestem het om volgende week terug te keer na hul poste.

“Kragtens die ooreenkoms sal stakende werknemers by die Matla, Arnot, Grootegeluk, Leeuwpan, Inyanda en Reductants-aanlegte Maandag terugkeer werk toe,” het Retha Piater, hoof van menslike hulpbronne, gesê. Sy sê werknemers sal ‘n minimum van R2 800 ontvang vir die eerste kwartaal van die maatskappy se 2013 korttermynaansporingsbonus.

Die staking het op 5 Maart in Mpumalanga begin en na die res van die aanlegte in Limpopo uitgebrei. Werknemers het met ‘n onwettige staking begin oor die nie-betaling van prestasiebonusse weens die feit dat die maatskappy in 2012 nie sy prestasiedoelwitte bereik het nie. “Die fokus is nou om die bedrywighede so gou as moontlik te begin nadat werknemers teruggekeer het en veiligheids- en opleidingsintervensies ondergaan het,” het Piater gesê.

Lesiba Seshoka, woordvoerder van die National Union of Mineworkers (NUM) het bevestig dat die werkers Maandag sal terugkeer werk toe. NUM hou vol dat hy nie ‘n beroep op sy lede gedoen het om te staak nie.

“Exxaro is tevrede met die uitslag van die onderhandelinge tussen die maatskappy en NUM, veral omdat ‘n uitgerekte staking en die gevolglike nadelige impak wat dit op Eskom se kragopwekking kon hê, verhoed kon word,” het Piater bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.