“Facebook-verkragter” in hof op aanklag van moord

Die sogenaamde “Facebook-verkragter”, Thabo Bester, sal Donderdag in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van moord.

ʼn Polisiewoordvoerder, kol Vishnu Naidoo, sê die 22-jarige Bester word verdink van die moord op ʼn model in Milnerton in September. Bester is in Alberton in hegtenis geneem en is verlede maand in die Durbanse landdroshof tot effektief 50 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op twee aanklagte van verkragting en roof. Bester het tydens versagting van sy vonnis aan die hof gesê hy is deur sy ouma se vriend verkrag toe hy jonk was. Hy het ook gesê dat hy verskeie kere deur ʼn man wat glo sy ouma moes oppas verkrag is. Bester het beweer dat hy nog nooit sy ma gesien het nie en in haglike omstandighede saam met sy ouma en oupa op ʼn plaas in Gauteng gebly het. Hy het aangevoer die situasie het vererger toe sy ouma dood is en hy by ʼn man gaan bly het wat hom in ‘n huis toegesluit en herhaaldelik verkrag het. Hy is in 2009 skuldig bevind aan bedrog en is tot ses maande tronkstraf gevonnis met die opsie om ʼn boete van R1 500 te betaal. Bester het aan die hof gesê hy het nie die geld gehad om die boete te betaal nie en is verskeie kere in die tronk deur ʼn groep mans verkrag. Bester sal na verwagting ook later na Gauteng gebring word waar hy op nog aanklagtes tereg sal staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.