‘Facebook-verkragter’ pleit skuldig op aanklagte

Die sogenaamde ‘Facebook-verkragter’, Thomas Bester, het skuldig gepleit op aanklagte dat hy twee vroue verkrag en beroof het.

Bester het Woensdag skuldig gepleit op al vier aanklagte teen hom in die Durban landdroshof. Hy staar twee aanklagte van verkragting en twee aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede in die gesig. Sy regsverteenwoordiger, Narendra Narotam, het ʼn verklaring aan die hof voorgelees waarin Bester verduidelik het hoe hy die misdade gepleeg het. Hy het erken dat hy twee vroue in Augustus in Westville en Umhlanga, buite Durban, verkrag het. Hoewel hy hulle verkrag het, was sy bedoeling net om hulle te besteel van waardevolle items soos selfone, kredietkaarte en horlosies. Dit het ook in die hof aan die lig gekom dat Bester al voorheen aan bedrog skuldig bevind is. Narotam het gevra dat sy kliënt vir sielkundige waarneming gestuur word aangesien hy glo probeer selfmoord pleeg het. Bester is verlede week in Alberton deur die Valke in hegtenis geneem. Hy verskyn Vrydag weer in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.