Facebook-verkragtingsklub: NZ-polisie gekritiseer

Twee van die verdagtes wat met die polisie gepraat het

Twee van die verdagtes wat met die polisie gepraat het

‘n Video van die polisiekommissaris volg onderaan die berig. Die polisie in Nieu-Seeland word gekritiseer vir die manier hoe hulle ‘n ondersoek hanteer het oor ‘n groep tienerseuns wat op Facebook oor beweerde verkragtings gespog het.

Die “Roast Busters”, ‘n groep tienerseuns van Auckland, het op die Facebook-blad minderjarige meisies se name genoem wat hulle glo te veel alkohol ingegee en dan groepseks mee gehad het. Die polisie is glo al twee jaar lank bewus van die bladsy, maar die bladsy is eers verlede week van Facebook afgehaal ná ‘n insetsel op die plaaslike televisiestasie TV3.

Twee tienermeisies het betogings in Nieu-Seeland se drie grootste stede gereel.

In ‘n ontstellende video wat op die internet gepubliseer is, het twee van die tienerseuns gespog dat hulle hul “misdrywe” ernstig opneem. “As jy dieselfde doen met die hoeveelheid meisies waarmee ons dit gedoen het, sal jy sien dit is ‘n werk,” het een van die tieners gesê. “Die meisies weet hoe ons is en hulle weet waarvoor hulle hulself inlaat.”

Die polisie het aanvanklik gesê hulle kon nie die tieners vervolg nie, omdat nie een van die meisies bereid was om ‘n formele klag te lê nie. Hulle het later egter gesê ‘n 13-jarige meisie het in 2011 in ‘n video-onderhoud getuig. Hulle het glo ook oor die afgelope twee jaar met drie ander meisies gesels. Die polisie het bevestig dat die betrokkenheid van een beampte se seun by die Roast Busters-groep nie hul werk beïnvloed het nie.

Anne Tolley, minister van die polisie in Nieu-Seeland, het versoek dat ‘n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur moet word oor die manier waarop die polisie die saak hanteer het. Ander versoek egter dat Peter Marshall, die polisiekommissaris, moet bedank.

“Ouers van jong meisies moet weet dat klagtes oor seksuele aanranding deeglik en behoorlik ondersoek gaan word,” het Tolley in ‘n verklaring gesê.

Marshall het intussen ‘n video met ‘n “boodskap van versekering” op die polisie se webwerf gelaai. “In die 1970s was dit nie ‘n oortreding vir ‘n man om sy vrou te verkrag nie,” sê hy in die video. “Kan jy jouself voorstel dat dit vandag geduld sal word? Definitief nie. Ons het al ver gevorder en ek kan vir jou sê die polisie in Nieu-Seeland is toegeweid om die regte ding te doen wanneer ons klagtes van seksuele aanranding ontvang.” (Die video volg onderaan die berig.)

Lees ook:
Vermeende Facebook-verkragtingsklub ontbloot

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.