Video: FAK stel Afrikaanse liedjietuin bekend

Roos wat vernoem is na Rina Hugo.

‘n Video volg onderaan die berig.

Die FAK se Afrikaanse liedjietuin is Donderdag by dié kultuurinstansie se hoofkantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel. Met hierdie unieke projek bring die FAK hulde aan Afrikaanse sangers en liedjieskrywers wat ‘n besonderse bydrae tot die Afrikaanse musiekskat gelewer het of steeds lewer.

Die liedjietuin is uitgelê met die hulp van Ludwig Taschner, ʼn bekende in die Suid-Afrikaanse roosbedryf, en sy dogter. Altesaam 165 roosbome en -bosse is aangeplant. Talle van die rose wat in die tuin gebruik is, is rose wat na Afrikaanse kunstenaars vernoem is, soos Christa Steyn, Rina Hugo, Mimi Coertse en Steve Hofmeyr.

In die tuin is die name van Afrikaanse kunstenaars wat oorlede is, waaronder Janita Claassen, Cora Marie, Christa Steyn, Louis van Rensburg, Bles Bridges, Lucas Maree, Koos du Plessis, Gé Korsten, Gert Potgieter en Johannes Kerkorrel, op klipplaatjies tussen die rose aangebring. Die lirieke van bekende Afrikaanse gunstelinge soos Kinders van die Wind, Griekwapsalms, Lisa se klavier en Suikerbossie kan gelees word op marmerplate oral in die tuin.

By dié geleentheid het die FAK ook erkenning gegee aan Sarie Marais, ‘n werknemer van die FAK vir die afgelope 13 jaar. Marais, wat binnekort aftree, was verantwoordelik vir die liedjietuin-projek, asook vir die nuwe FAK-sangbundel wat verlede jaar by Kraal Uitgewers verskyn het. ‘n Roos wat vernoem is na die Sarie Marais in die bekende volksliedjie is tydens die bekendmaking van die Liedjietuin deur Ludwig Taschner geplant.

‘n FAK-eretoekenning vir Besondere Kultuurdiens aan die Afrikaanse Kind is ook oorhandig aan Verna Vels, skrywer van die Liewe Heksie-stories en vervaardiger van talle televisieproduksies vir kinders, vir haar bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat. In Vels se afwesigheid het Liewe Heksie die toekenning in ontvangs geneem.Bekendes in die Afrikaanse musiekbedryf soos Rina Hugo, Johan van Rensburg, Jan de Wet en Mimi Coertse het die geleentheid bygewoon.

Die Liedjietuin is oop vir die publiek, en sal met verloop van tyd uitgebrei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.