Familie verdeeld oor Boston-verdagtes

Anzor Tsarnaev Foto: DailyMail

Anzor Tsarnaev het begin huil toe hy uitgevind het dat sy seun, Dzhokhar Tsarnaev (19), een van die verdagtes van die ontploffings by Boston-marathon, lewend aangekeer is.

“Ek is so dankbaar,” het Tsarnaev aan ABC News gesê. Die pa het ook ‘n boodskap aan sy seun gehad, “Vertel die polisie alles. Alles. Wees net eerlik.”

Dzhokhar is Vrydagaand ná ‘n intense mensejag wat die stad Watertown en omliggende gebiede in Amerika tot stilstand gedwing het. Sy broer, die 26-jarige Tamerlan Tsarnaev, is Donderdagaand in ‘n skietgeveg met die polisie doodgeskiet.

Dzhokhar, wat in ‘n boot agter in ‘n huiseienaar se erf weggekruip het, is ernstig beseer toe die polisie se SWAT-span (Spesiale Wapens en Tegniek) hom uiteindelik aangekeer het.

Tsarnaev sê hy het oor die telefoon die bomontploffings met sy seuns bespreek. Hy het gesê sy seuns het hom gerus gestel en gesê: “Alles gaan goed, Pappa. Alles gaan baie goed.”

Hy het vroeër in die dag Vrydag heftig ontken dat sy seuns enigsins betrokke kan wees by die terreuraanval, en daarop aangedring dat iemand poog om hulle te laat skuldig lyk. “Hulle kon dit nooit doen. Nooit, ooit, ooit!” het hy gesê. Tsarnaev bly in Makhachkala, Rusland. Hy het bygevoeg dat, indien sy tweede seun nie lewend aangekeer word nie, hy oortuig sal wees dat daar ‘n sameswering is. “As hulle hom doodmaak, sal die hel los wees.”

Die seuns se ma, Zubeidat Tsarnaev

Die mans se ma, Zubeidat, beaam haar man se stellings en beskuldig die Federale Buro van Ondersoek (FBI) dat hulle die seuns skuldig wil laat lyk. Sy voer aan dat dit onmoontlik is dat haar seuns vir dié gewelddadige gebeure verantwoordelik kan wees. Sy sê haar oudste seun, Tamerlan, het vyf jaar gelede baie godsdienstig geraak en voer aan hy is as ‘n “leier” uitgeken in die groep en dat die FBI hom dophou. “My seuns is werklik onskuldig en ek weet dat nie een van hulle ooit gepraat het oor dít waarvan hulle nou beskuldig word nie,” het Zubeidat gesê.

Zubeidat voeg by dat die seuns graag praat en dat hulle haar gereeld gebel het. “Ek is ‘n ma, ek het hulle grootgemaak. My oudste seun het my alles vertel. Hy sal my bel en wil weet hoe dit by ons gaan. Altwee sal bel en sê, ‘mamma, ons is lief vir jou, mamma hoe gaan dit, mamma ons mis julle.”

“Dzhokhar is ‘n tweedejaar mediese student in Amerika. Hy is ‘n slim kind. Ons het verwag dat hulle die vakansie huis toe sal kom,” het Tsarnaev gesê.

Die seuns se oom, Ruslan Tsarni, wat in Maryland bly, het egter nie dieselfde gunstige woorde oor die twee seuns nie. Tsarni het die oudste broer as ‘n “verloorder” beskryf wat sy dood “verdien” het.

“Ek wens hulle het nooit geleef nie,” het Tsarni gesê. Hy sê die broers het al bykans 10 jaar lank in Amerika gebly sedert hulle van Tsjetsjenië af verhuis het. Hy het sedert 2009 nog nie met die broers gepraat nie en aangedui dat hy hulle nie herken het toe hy die foto’s, wat die FBI Donderdagaand vrygestel het, gesien het nie. “Ek is sprakeloos, geskok,” het Tsarni bygevoeg.

Die seuns se tannie, Maret Tsarnaeva, het gesê haar broer het ‘n hoë verwagting vir sy twee seuns gehad, veral die oudste, Tamerlan. Volgens Maret het Tamerlan onlangs ‘n toegewyde Moslem geraak. “Maar dit was maar onlangs, dalk twee jaar gelede. Hy het vyf keer per dag begin bid,” het Maret gesê. “Maar hy het ‘n vrou in Boston van ‘n Christen-familie, so mens kan nie sê dit is aan godsdiens verbind nie.”

Dzhokhar Tsarnaev

Verskeie klasmaats van die jongste broer, Dzhokhar, het hom as ‘n “vriendelike, slim kind” beskryf en gesê hulle is geskok dat hy deel was van die twee wat drie mense gedood en meer as 180 in die ontploffing beseer het. “Hy het gekuier, partytjies bygewoon en bietjie dagga gerook,” het een van die vriende aan CNN gesê. “Dis nie asof hy hierdie uitlander was nie.”

Lees ook:
Boston-marathon: Tweede verdagte vasgetrek
Boston-bloedbad: Verdagtes is broers
Boston-ontploffing: Vermeende verdagte dood
Polisieman by Boston-kampus doodgeskiet
Foto en video: Verdagtes in Boston-bloedbad
Boston-marathon: Drukpotte as bomme gebruik
Boston-bloedbad: SA beseerdes was toeskouers
Boston: Twee SA’ners beseer in ontploffing
Video en foto’s: Drie dood, honderde beseer in Boston-bloedbad
Foto’s en video: Ontploffings by Boston-marathon

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.