Familie verlaat Mandela-hospitaal

Mandela en Graça Machel in Julie 2007 Foto: Werner Beukes/SAPA

Voormalige pres. Nelson Mandela se dogter Zenani Mandela-Dlamini het Saterdag die Pretoriase hospitaal verlaat waar haar pa ‘n sewende dag van behandeling ontvang vir ‘n herhalende longkwaal.

Dit was Saterdagmiddag stil buite die Medi-Clinic Harthospitaal terwyl die internasionale media net voor 16:00 begin oppak het.

Polisiebeamptes bewaak steeds die hospitaal se twee ingange en deursoek alle voertuie wat die perseel wil binnegaan.

Familielede het net voor 11:30 by die hospitaal in twee aparte voertuie opgedaag.

Mandela is verlede Saterdag omstreeks 01:30 in die hospitaal opgeneem nadat sy toestand vererger het.

‘n Groep mense, tussen sewe en 23 jaar oud, van die Speed Taekwondo-klub in Pretoria, het Saterdagoggend blomme en plakkate met die Suid-Afrikaanse vlag en hul name na die hospitaal gebring om hom ‘n spoedige herstel toe te wens. “Ons is hier vir Madiba omdat hy siek is en ons wens dat hy gou gesond word,” het die 10-jarige Connor Harley gesê. Marnus Calitz (7) het gesê hy is baie lief vir Mandela. Die groep het ‘n paar roetines vir die media uitgevoer. “Ons het gekom om Madiba te vereer. Hy het al so baie vir ons gedoen en ons hoop hy word gou gesond,” het die 14-jarige Junior Mdakane aan verslaggewers gesê.

‘n Vrou wat in ‘n woonstelblok oorkant die hospitaal bly het ‘n tafel neergesit en kos, koffie, tee, eetgoed en vrugte aan die media en ander verbygangers verkoop.

Die presidensie sê Mandela se toestand is “ernstig, maar stabiel”.

President Jacob Zuma en Zweli Mkhize, tesourier-generaal van die ANC, het Mandela Donderdag besoek. “Madiba se gesondheid verbeter, maar sy toestand bly ernstig,” het Zuma in ‘n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.