Familietwis laat pa glo seuntjie uitgooi voor hy self 52 verdiepings ver spring

Svetlana Bukharina, Dmitriy Kanarikov en hul seuntjie Kirill Foto: Facebook

Svetlana Bukharina, Dmitriy Kanarikov en hul seuntjie Kirill Foto: Facebook

ʼn Stryd om toesig oor hul seuntjie het glo daartoe gelei dat die ontstelde pa sy driejarige uit die 52ste verdieping van ʼn wolkekrabber in Manhattan, New York, gegooi het voordat hy self gespring het.

Dmitriy Kanarikov (35) is dood nadat hy Sondag omstreeks 12:05 uit die gebou gespring het. Kirill Kanarikov (3) is oomblikke later by St Luke’s Roosevelt-hospitaal oorlede.

Kanarikov, ʼn immigrant van Oekraïene het drie maande gelede op sy Facebook-blad geskryf hy wil net ʼn goeie pa en eggenoot wees. “Ek wil die beste pa en man wees – niks anders is op die oomblik vir my belangriker nie,” het Kanarikov geskryf.

Svetlana Bukharina, sy vervreemde vrou, het in Maart op haar Facebook-blad gespog sy het die beste man en seuntjie in die wêreld.

Die huwelik het egter verbrokkel en Kanarikov en Bukharina is onlangs geskei. Die egpaar was in ʼn hofstryd gewikkel oor toesighouding.

Die egpaar se skeiding was glo só erg dat hulle mekaar telkens by die polisiestasie moes ontmoet om Kirill af te laai of op te tel.

Kanarikov het Kirill Sondagoggend om 10:00 by die polisiestasie opgelaai en hy sou om 13:00 terugkeer.

Die liggame het op die dakke van twee verskillende geboue beland.

Dit is nog nie duidelik waarom Kanarikov dié luukse woonstelblok gekies het nie. Woonstelle word uitverhuur vir tussen $3 300 (R34 000) – $6 350 (R65 000) per maand.

Volgens ʼn ooggetuie het hy eers die kind laat val en toe self gespring.

Kanarikov se Facebook-blad is vol foto’s van die eens gelukkige familie.

“Dit is ʼn private saak vir my familie en vriende,” het Bukharina aan die Daily News gesê.

Klik hier om nog foto’s te sien.

Lees ook:
Man en kleuter val 52 verdiepings ver na hul dood

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.