Die Farlam-kommissie het die afgelope tien dae bewyse gevind wat daarop dui dat die polisie inligting van die kommissie weerhou het in die ondersoek oor die Marikana-slagting ’n jaar gelede.
Volgens adv. Geoff Budlender lyk dit of daar op kol. Duncan Scott se getuienis, wat op ’n rekenaarhardeskyf gestoor is, dokumente bygevoeg is en daar is selfs dokumente wat nog nie voorheen bestudeer is nie. Die kommissie het besluit om tot eerskomende Woensdag te verdaag sodat kenners hierdie bewysstukke en getuienis kan fynkam.
Die kommissie ondersoek die dood van 44 mense verlede jaar tydens ’n onwettige staking by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg. Die polisie het 34 betogende stakers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet in die proses om die groep uitmekaar te jaag.