FBI onder skoot oor spioenasie op joernalis

Foto: James Rosen. Foto: Fox News

‘n Storm het in die Amerikaanse media losgebars na dit aan die lig gekom het dat die FBI ‘n geheime lasbrief bekom het om ‘n bekende verslaggewer se privaat e-pos te onderskep.

Die verslaggewer is deur Fox News as sy senior korrespondent in Washington DC, James Rosen, geïdentifiseer.

Die FBI het aangedui dat gemeen is Rosen is besig om ‘n misdaad te pleeg in sy kommunikasie met ‘n sekuriteitskontrakteur van die Departement van Buitelandse Sake, Stephen Jin-Woo Kim.

Kim word nou weens spioenasie aangekla omdat hy glo geklassifiseerde inligting aan Rosen gelek het. Hy ontken die aanklagte.

Dit is die eerste keer dat die FBI ‘n lasbrief bekom het deur “gewone nuusinsameling deur ‘n joernalis” as spioenasie te beskryf, en dit is hieroor dat die media-oproer gaan.

Ook Rosen se werkgewer is ontstoke omdat Rosen met spioenasie in verband gebring is “bloot omdat hy sy werk gedoen het.”

Dié storm volg net enkele dae nadat nog ‘n storm losgebars het na dit aan die lig gekom het dat die Departement van Justisie verlede jaar ‘n lasbrief bekom het om twintig telefoonlyne se rekords te verkry wat deur meer as 100 joernaliste en redakteurs van Associated Press (AP) in drie stede gebruik word. Dié ondersoek het in verband gestaan met ‘n Al-Qaeda-plan om ‘n Amerikaanse vliegtuig op te blaas.

Die AP- en IRS-skandale word as ‘n terugslag vir spraakvryheid in die VSA beskryf en is selfs as pres. Barack Obama se eie Watergate beskryf.

Die publiek reageer skynbaar effens anders as die media oor die aangeleentheid. ‘n Rasmussenpeiling dui daarop dat 52% van die Amerikaanse kiesers meen die media reageer heftiger op nuus as dit die media self, of familie van mediamense raak as andersins. Net 23% stem nie saam nie.

In ‘n vroeëre peiling is bevind dat 42% van die kiesers meen die departement van justisie het in die AP-saak opgetree om die media te intimideer, terwyl net 38% meen die departement het in die land se beste veiligheidsbelang opgetree.

Die Republikeinse kongreslede, en sommige lede van die Demokratiese Party dring daarop aan dat Obama die prokureur-generaal, Eric Holkder, ontslaan. Die Christian Science Monitor meen dit is onwaarskynlik dat Obama aan die druk sal toegee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.