‘n Man in sy 40s is dood en ‘n ander beseer toe ‘n vragmotor op die R21 in Johannesburg hulle getref het.
Alhoewel die inligting nog nie bevestig is nie, het omstanders aan paramedici verduidelik dat die bestuurder van ‘n Ferrari aan ‘n bestuurder in ‘n bakkie beduie het om af te trek. Beide voertuie het in die stadige baan tot stilstand gekom. Toe die mans uitklim, het ‘n verbygaande vragmotor beide mans getref.
Paramedici het die bestuurder van die Ferrari in ‘n ernstige toestand gevind. Hy het verskeie beserings opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het. Die bestuurder van die bakkie is vir ligte beserings behandel en is later in ‘n stabiele toestand na ‘n hospitaal geneem.
Die voorval het naby die Voortrekkerweg-afrit plaasgevind.
Die besonderhede oor die voorval sal ondersoek word. Die bestuurder van die vragmotor was nie op die toneel toe paramedici opgedaag het nie.