Fetus verdwyn by hospitaal

‘n Dooie fetus het vermis geraak by ‘n hospitaal in Springs in Gauteng.

“Die fetus het glo verdwyn nadat ‘n pasiënt by die hospitaal opgeneem is toe sy geboorte geskenk het aan ‘n dooie sewe maandeoue fetus by die maatskaplikediensagentskap se kantoor in Springs,” het Simon Zwane, woordvoerder van die departement van gesondheid in Gauteng, gesê. Paramedici het die vrou verlede week na die Verre Oos-Rand-hospitaal geneem en die dooie fetus aan ‘n gesondheidswerker in die ongevallesaal oorhandig. “Die gesondheidswerker het die fetus glo in die spoelkamer geplaas sodat dit na die lykshuis geneem kan word,” het Zwane gesê.

Die nagskof-personeel het na die spoelkamer gegaan en ontdek dat die fetus verdwyn het. “Hulle het die saak egter nie by bestuur aangemeld nie.” Bestuur van die hospitaal het eers drie dae later uitgevind die fetus is weg toe die ma en haar man saam met hul begrafnisondernemer na die hospitaal gekom het om die fetus te kom haal.

Hope Papo, LUR vir gesondheid, het gesê die voorval dui daarop dat protokol en prosedures nie daardie dag gevolg is nie. ‘n Lys van betrokke personeellede is opgestel en verklarings is afgeneem. ‘n Dissiplinêre verhoor sal binnekort plaasvind. “Die polisie sal ook ontbied word om te bepaal hoe die fetus behandel is en wie vir die verdwyning blameer moet word,” het Zwane bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.