FHM-model vra om verskoning

Jessica Leandra

Die model Jessica Leandra het Saterdag gesê dit is nie in haar aard om rassistiese taal te gebruik nie, nadat sy ‘n herrie op die sosiale netwerk Twitter veroorsaak het.

“Oor die afgelope 24 uur kon ek nadink oor my optrede en ek het nie woorde om te sê hoe opreg jammer ek is oor my onvriendelike en emosionele uitbarsting onlangs op Twitter nie,” het Leandra in ‘n verklaring gesê. “Mense wat my ken weet dit is nie in my aard of woordeskat nie.”

Leandra het Vrydag die oproer veroorsaak ná haar rassistiese tweet Donderdagaand waarin sy die k-woord gebruik het.  Leandra, wat FHM se model van die jaar-kompetisie in 2011 gewen het, het intussen die tweet uitgevee. “Maak nie saak hoeveel ek uitgelok is nie, ek erken dat dit ‘n onvanpaste reaksie op die voorval was. Ek kon nou daaroor nadink en besef dat ek dit anders kon hanteer het,” het sy gesê. Leandra het besluit om persoonlike berading te ontvang hoe om seksuele teistering in die toekoms te hanteer.  “Ek is nog baie jonk en as ek kan leer hoe om dit meer gepas te kan hanteer, dan kan ander jong meisies en vroue dalk ook daardeur bevoordeel word en uit my ondervinding iets leer.”

Suid-Afrikaners het Vrydag deur middel van Twitter hul misnoeë oor Leandra se uitlating uitgespreek. In ‘n verklaring op FHM se webwerf het hul gesê dat Leandra onmiddellik van haar titel as FHM se Modelboek 2011 ontneem is. “Dit is vir ons belangrik dat daar kennis geneem word dat sy op geen manier die tydskrif verteenwoordig nie; sy was slegs die wenner van ‘n aanlyn meningspeiling wat ons gehou het en ons distansieer onsself ten volle van haar blatante rassistiese aanmerkings,” het FHM se redakteur, Brendan Cooper in dié verklaring gesê.  “Ons het alle foto’s van haar van ons webwerf verwyder en sal in die toekoms niks met haar te doen hê nie.” -SAPA

Lees die oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.