FHM-werknemers gepos oor verkragting-grappies

Twee werknemers van die manstydskrif FHM wat onder skoot gekom het nadat hulle grappige uitlatings oor korrektiewe verkragting op Facebook gemaak het, is Vrydag afgedank, het die tydskrif gesê.

“FHM bevestig dat Maxim Barashenkov en Montle Moorosi ná ‘n tugverhoor op Vrydag 19 Julie, wat deur ‘n onafhanklike persoon gelei is, met onmiddellike effek afgedank is,” het ‘n kort verklaring op die tydskrif se webwerf aangekondig.

Die tydskrif het vroeër die week gesê hy is “geskok om te hore te kom van die ongelooflik aanstootlike kommentaar wat deur twee werknemers gemaak is”.

‘n Inskrywing op Barashenkov se Facebook-blad het dié sosialemedia-storm ontketen. Barashenkov het Dinsdag geskryf: “Ek stel korrektiewe verkragting en sterilisasie voor vir enige wit persoon wat twerk [om op ‘n seksueel suggestiewe wyse te dans deur die heupe rond te swaai].” Een van Barashenkov se vriendinne het hom tereggewys en gesê dat verkragting nooit goedgepraat kan word nie. Moorosi het later hierop kommentaar gelewer en gesê: “Ek dink verkragting kan nogal lekker wees indien jy dit op ʼn romantiese manier doen. Soos deur te sê ‘Ek is lief vir jou’ voor jy ʼn roofie [dwelmmiddel] in haar Earl Grey-tee inglip.”

Barashenkov het later self reageer: “Ek was self al ‘n slagoffer van korrektiewe verkragting, so ek kan grappies maak daaroor.”

Die twee mans het Donderdag in ‘n ope brief om verskoning gevra, wat aanvanklik met ‘n verskoning begin het, maar later gekla het oor die “media waansin” oor hul “privaat gesprek” op Facebook.

Lees ook:
FHM-werknemers ook gelooi ná hulle jammer sê
FHM skors twee oor “korrektiewe verkragting”-uitlatings

Foto: @mishsolomon/Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.