FHM-werknemers ook gelooi na hulle jammer sê

Foto: @mishsolomon/Twitter

Twee werknemers van die manstydskrif FHM wat onder skoot gekom het nadat hulle grappige uitlatings oor korrektiewe verkragting op Facebook gemaak het, het in ʼn ope brief om verskoning gevra maar ook gekla oor die “media waansin” oor hul “privaat gesprek” op Facebook.

Max Barashenkov en Montle Moorosi het die brief op wordpress.com gepubliseer. “Ons vra om verskoning vir ons onsmaaklike en onsensitiewe uitlatings en wil veral jammer sê aan enigiemand wat al ooit deur die verskrikking van verkragting moes gaan.” Barashenkov en Moorosi is geskors en staar dissiplinêre aksie in die gesig nadat hulle uitlatings ʼn storm op sosiale media ontketen het. “Daar is geen verskoning vir ons woorde en die nalatige wyse waarmee dit gelewer is nie. Ons keur nie enige vorm van geweld teen vrouens of enigiemand anders goed nie.” Barashenkov en Moorosi kla egter oor die “media waansin” wat deur die uitlatings op hul private Facebook-profiele veroorsaak is en dat dit meer aandag ontvang as verkragting in die land. Die twee het verwys na die onlangse korrektiewe verkragting van Duduzile Zozo (26) en dat dit nie soortgelyke aandag in die media ontvang het nie. Barashenkov en Moorosi se verskoning is egter nie deur almal aanvaar nie met talle mense wat kommentaar daarop gelewer het en onder meer gesê het hulle probeer die blaam vir hulle aksies verskuif. Ander meen dit is ʼn swak poging.

Barashenkov het Dinsdag op sy Facebook-profiel gesê: “Ek stel korrektiewe verkragting en sterilisasie voor vir enige wit persoon wat twerk [om op ‘n seksueel suggestiewe wyse te dans deur die heupe rond te swaai].” Korrektiewe verkragting is wanneer mans ʼn lesbiër verkrag om haar heteroseksueel te ‘maak’. Moorosi het later hierop kommentaar gelewer en gesê: “Ek dink verkragting kan nogal lekker wees indien jy dit op ʼn romantiese manier doen. Soos deur te sê ‘Ek is lief vir jou’ voor jy ʼn roofie [dwelmmiddel] in haar Earl Grey-tee inglip.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.