Fiëstas: SA se gunstelinge môre op een verhoog

Laurika Rauch

Prysoorhandigingsgeleenthede van wêreldstandaard is sinoniem met ’n skittervertoning wat ’n mens bybly en die kykNET Fiëstas is geen uitsondering nie.

Vanjaar se glansryke geleentheid spog met gehoorgunstelinge soos Elvis Blue, Laurika Rauch, Emo Adams en die opkomende sopraanster Friedel Mitas. Daarby word dié gesogte pryse vanjaar die eerste keer in die Staatsteater in Pretoria gehou en die gehoor kan ook na optredes deur die Mzansi-jeugkoor, die Tshwane-dansmaatskappy en ’n 12-stuk-orkes uitsien.

“Ons trek vir die gunstelinge ’n nuwe baadjie aan en die gaste kan solank hul lippe aflek vir pragtige weergawes van liedjies soos Laurika se Mannetjies Roux, Koos du Plessis se Kinders van die wind en Klein tambotieboom van Die Heuwels Fantasties,” sê Janine Neethling, musiekregisseur van die kykNET Fiëstas.

Die tegniese kant van sake behoort eweneens van die boonste rakke te wees, want ’n wêreldklas oudiovisuele-vertoning – ’n eerste vir prysoorhandigings in Suid-Afrika – is ook deel van die geleentheid. Dit is geskep en word bestuur deur Jaco Bouwer en behels onder meer videokarteringtegnologie (video mapping), asook die interaktiewe aanbieding van visuele effekte ter ondersteuning van die sterre se sang en optredes. In kort, ’n feestelike skitter-kykspel wat met die beste van Hollywood, Las Vegas en Londen se West End vergelyk kan word.

Die kykNET Fiëstas is ’n viering van die beste kunstenaars en produksies wat verlede jaar hul debuut op Afrikaanse kunstefeeste oor Suid-Afrika heen gemaak het. Die pryse word vanjaar in 15 kategorieë oorhandig en dit sluit onder meer in dié vir beste nuwe Afrikaanse produksie, beste prestasie in ’n musiekgedrewe produksie en beste akteur en aktrise.

Wessel Pretorius (OntN is vir neurose en Vagina Dentata) spog  met ’n allemintige agt benoemings – die meeste vir een kunstenaar – en dit sluit dié in vir beste akteur, beste regisseur en beste nuwe Afrikaanse vertoning. “As ’n jong kunstenaar beteken dié soort erkenning regtig baie. Behalwe vir die erkenning gee dit mens die selfvertroue om toekomstige projekte te kan aanpak; dis ook baie opwindend as mens besef kunstenaars word deur pryse soos die Fiëstas ondersteun. Daarby sal produksies wat benoem is mense na die teater lok – al is dit bloot uit nuuskierigheid. Vanjaar se pryse sluit heelparty benoemings vir teaterproduksie-ontwikkeling in; dis ongetwyfeld goeie nuus vir die groei van ons plaaslike teaterbedryf,” het Pretorius gesê.

Kaartjies vir die oorhandiging van die kykNET Fiëstas – wat ook later deur kykNET uitgesaai sal word – kos slegs R150 per persoon en is by Computicket beskikbaar. Die opbrengs van die kaartjieverkope word aan die Theatre Benevolent Fund geskenk.

Maroela Media gaan ook regstreeks van die Fiëstas al die inligting vir jou bring. Volg @draadloos1 op Twitter en Maroela Media op Facebook.

Vir nog inligting volg kykNET op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.