ʼn Fietsryer het Woensdagoggend ter nouernood aan die dood ontkom ná hy teen ʼn swaarvoertuig gebots het.
Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, is die man in sy veertigs en het die voorval op die N12 by die Roshnee-afrit in Potchefstroom gebeur.
“Na wat verneem word, was die swaarvoertuig onderweg na Potchefstroomse industriële gebied toe die botsing plaasgevind het. Daar was eers gevrees dat die fietsryer onder die voertuig vasgekeer was, maar met die paramedici se aankom het hulle die man agter die voertuig se wiel gekry. Dit wil voorkom of die voertuig se een wiel oor die man se been gery het. Hy het erge beserings aan sy onderbeen opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en per ambulans na die provinsiale hospitaal in Potchefstroom geneem,” het sy aan Maroela Media gesê.
Niemand anders is in die voorval beseer nie.