Fietsryers ignoreer glo veiligheidsmaatreëls

Argieffoto

Talle fietsryers in Suid-Afrika gehoorsaam glo nie voorkomingsmaatreëls wanneer hulle openbare paaie gebruik nie.

Sowat 61% van fietsryers wat aan ‘n peiling deelgeneem het, het gesê dat hulle nie altyd fietsryvalhelms wanneer hulle ry nie, ten spyte van 64% wat erken het dat hulle nie veilig op die paaie voel nie. Twee uit vyf (38%) van fietsryers beweer dat hulle graag skool toe of werk toe sou wil ry, maar dat hulle oortuig is dit nie veilig genoeg is nie. Meeste van hulle, 75%, het ingestem dat hulle met fietse werk toe of skool toe sal ry indien spesiale fietsrybane ingestel word.

Verbruikersinsigtemaatskappy Pondering Panda het 4 264 mense tussen 13 en 34 jaar oud ondervra. Sowat 37% van hulle besit fietse. Shirley Wakefield, woordvoerder vir Pondering Panda, het gesê dat, indien meer mense sou fietsry, hulle ‘n goedkoper en gesonder manier van pendel sou geniet. Sy sê die veiligheid van fietsryers hang van motoriste af. “Die feit dat die meerderheid van fietsryers sê dat hulle nie altyd ‘n valhelm dra nie, maak dit veral belangrik vir motoriste om waaksaam op te tree en versigtig te bestuur wanneer hulle ‘n fietsryer gewaar.”

“Die opname is landswyd tussen 7 Januarie en 10 Januarie gedoen en die resultate is aangepas om nasionaal verteenwoordigend te wees,” het Wakefield gesê.

Die opname is kort ná die afsterwe van Olimpiese fietsryer Burry Stander gedoen. Die 25-jarige is dood nadat ‘n taxi hom op 3 Januarie in Shelly Beach aan die KwaZulu-Natalse suidkus van sy fiets afgestamp het.

Fietsryers regoor die land het intussen ‘n beroep op die regering gedoen om fietsrybane te implementeer om hul veiligheid te verseker.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het berig dat 252 fietsryers gedurende 2010 op die land se paai gesterf het en ‘n geraamde 800 is beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.