Fiksheid-ondersoek kos belastingbetaler glo meer as R13 miljoen

fiksheidDie kommissie van ondersoek na die sterftes van agt mense gedurende ʼn fiksheidstoets by die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat (RTI) gaan die belastingbetaler glo meer as R13,3 miljoen uit die sak jaag, berig die Sunday Tribune.

Volgens die berig is die grootste gedeelte van die geld op prokureurs spandeer wat deur die KwaZulu-Natalse departement van vervoer aangestel is. Die prokureurs se rekening beloop glo sowat R1,5 miljoen per maand. Een van die advokate se rekening is glo meer as R1 miljoen. ʼn Ander advokaat het die departement glo R900 000 gevra vir twee weke se werk. Hy het die departement glo ook R6 000 gevra om ʼn getuie by die King Shaka Internasionale-lughawe op te laai. Die kommissie stel ondersoek in na die dood van agt mense nadat hulle in Desember aan ʼn 4km-fiksheidstoets deelgeneem het by die Hary Gwala-stadion in Pietermaritzburg. Die fiksheidstoets het deel uitgemaak van ʼn proses om aansoek te doen vir werk by die padverkeersinspektoraat. Meer as 40 000 mense het gekwalifiseer om vir 90 geadverteerde poste aansoek te doen. Die 40 000 mense het op 27 en 28 Desember die fiksheidstoetse bygewoon. Die kommissie het aanvanklik ʼn begroting van R7,6 miljoen gehad maar dit is later met ʼn verdere R5,7 miljoen verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Indien fiksheid ‘n voorvereiste was, kon die departement mos vra dat die aansoekers bewys lewer van fiksheid soos die Comrades organiseerders doen. Jy sal dan ook nie sit met 40000 aansoeke nie en niemand sal dan dood wees na 4 km nie. Suid Afrika is ‘n arm land en ons kan nie langer geld verkwis op hierdie skaal nie. Ons is besig om ons kinders se toekoms te vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.