Fiksheid: Oorsaak van dood steeds onbekend

Argieffoto

‘n Dokter kon glo nie die oorsaak van vier mense, wat aan ‘n fiksheidstoets vir die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat deelgeneem het, bepaal nie, het ‘n Kommissie van Ondersoek Dinsdag gehoor.

“Geen spesifieke oorsaak kon bepaal word nie,” het dr. Dhanraj Maney, forensiese mediese beampte, gesê. “Die omstandighede rondom die sterftes moet egter ondersoek word. Ek wil steeds nie sê dit was hitte-uitputting nie, want ek het nie al die feite nie.”

Maney getuig tans voor die kommissie in Pietermaritzburg nadat agt mense in Desember in die stad gesterf het terwyl hulle aan ‘n fiksheidstoets deelgeneem het. Die slagoffers het aan ‘n 4km-wedloop by die Harry Gwala-stadion deelgeneem. Die wedloop was deel van ‘n werwingstoets vir nuwe aansoekers by die Padverkeersinspektoraat. Meer as 34 000 mense het gekwalifiseer om aansoek te doen vir 90 poste. Altesaam 15 600 aansoekers het onderskeidelik op 27 Desember en 28 Desember aan die wedloop deelgeneem.

Maney het gesê hy kon nie die oorsaak van die sterftes van die deelnemers bepaal nadat hy hul lewer, harte, longe, brein en ingewande ondersoek het nie. Hy het ‘n nadoodse ondersoek gedoen op Lenny Nxumalo, Sanele Ngcobo, Ntuthuko Sibisi en Sibonakaliso Mhlanga. Maney het gesê die feit dat die deelnemers in baie warm toestande geoefen het, moet oorweeg word wanneer die oorsaak van dood bepaal word.

Tydens kruisverhoor het Ravenda Padayachee van die departement van vervoer in die provinsie gesê nadoodse ondersoeke op slagoffers van grootskaalse rampe kan slegs deur ‘n spesialis forensiese patoloog gedoen word.

Maney getuig Woensdag verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trippie ·

As totale leek vra ek waarom ‘n spesialis forensiese patoloog dan nog nie ‘n ondersoek uitgevoer het na die afsterwe van die 4 persone nie ? Dis 8 maande later.

Trippie ·

Nog ‘n dom vraag, kan hierdie 4 sterftes beskou word as ‘n grootskaalse ramp, aldus Ravenda Padayachee van die departement van vervoer ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.