Finland neem baie SA-kinders aan

Finland

Egpaartjies van Finland neem al hoe meer Suid-Afrikaanse kinders aan, het Sello Moloto, Suid-Afrika se ambassadeur in Finland, Vrydag gesê.

“Finland se statistiek het in 2011 aangedui dat meeste kinders wat oorsee aangeneem is, in Suid-Afrika gebore is,” het Moloto in Helsinki gesê. “Dis wonderlik. Hulle word nou ‘n nuwe lewe in Finland gebied.”

Volgens Moloto het dié kinders ‘n baie beter vooruitsig in Finland as meeste kinders in middelklasfamilies in Suid-Afrika. “Selfs beter as my eie kinders. Hulle het kitare, iPads en talle ander dinge.”

Meeste van die aangenome Suid-Afrikaanse kinders in Finland was verlate opgespoor. Sowat 400 Suid-Afrikaanse kinders, meeste tussen twee en vier jaar oud, is die afgelope vyf jaar deur egpaartjies in Finland aangeneem. “As jy hierdie kinders sien, praat hulle reeds Fins,” het Moloto bygevoeg.

Talle vroue in Finland het gekies om nie self kinders te baar nie, aangesien hulle op hul loopbane gefokus het. “Meeste van hulle het besluit om nie kinders te hê nie, hulle dink nie hulle het genoeg tyd om swanger te raak en dan te kraam nie, maar die grootste rede is die keuse.”

Finse paartjies verkies Suid-Afrikaanse kinders bó kinders van ander Afrika-state. “Ek weet nie wat hul redes is nie, maar Suid-Afrikaanse wetgewing is baie strenger. Hulle glo dat, indien hulle deur al die prosesse en stelsels is, sal die ouers van die kind nie die kind later weer eis nie,” het Moloto verduidelik.

Hy sê Finse mense vertrou ook die Suid-Afrikaanse regstelsel meer as enige ander Afrika-land.

Die aangenome kinders hou glo gewoonlik hul Suid-Afrikaanse name soos Bongani, Thando en Bheko. Die kinders kan glo te enige tyd hul tuisland besoek, en meeste van hulle behou dubbele burgerskap vir Finland en Suid-Afrika.

Moloto het onlangs ‘n paartjie besoek wat twee Suid-Afrikaanse seuns aangeneem het. Die vrou is ‘n dokter en die man is ‘n sakeman. “Alles in hul huis is Suid-Afrikaans. Daar is Suid-Afrikaanse vlae, embleme, musiek, kos…” het Moloto gesê. “Hulle vier selfs die Suid-Afrikaanse vakansiedae sodat die seuns nie hul erfenis en waar hulle vandaan kom, sal vergeet nie. Ek was met Vryheidsdag daar en hulle was besig om te braai. Ek was heeltemal verras.” Hulle vier ook Mandela-dag. Die seuns is nie bloedbroers nie.

Finland werk meestal met die Johannesburgse Welsynsvereniging, maar maak ook gebruik van ander aannemingsagentskappe. Vroue wat nie hul kinders wil hê nie, word versoek om hulle na dié vereniging of ander agentskappe te neem en hulle nie in openbare plekke net agterweë te laat nie. “Dis beter om die kind by die vereniging te laat, eerder as om hulle op ‘n sypaadjie te los,” het Moloto gesê.

Volgens Statistiek Finland is 208 kinders in 2012 oorsee aangeneem. “Die grootste groepe in aannemings van oorsee na Finland is kinders wat in China en Suid-Afrika gebore is,” lui ‘n verklaring op die webwerf. “In 2011 was die grootste groep kinders in Suid-Afrika gebore.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.