Fisieke, seksuele geweld vier hoogty in Afrika

Afrikalande het van die hoogste vlakke van fisieke en seksuele geweld teen vroue in die wêreld.
Volgens ʼn verslag oor navorsing wat gesamentlik tussen die London School of Hygiene and Tropical Medicine, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad uitgevoer is, word sowat 45.6% vroue in Afrika fisiek en seksueel mishandel, teenoor 35% in die res van die wêreld.
Die verslag het verder onthul vroue regoor die wêreld wat deur hul intieme maat of ʼn ander persoon mishandel word, se kans om depressief te wees, alkoholverwante probleme te hê of MIV- of ander seksueel oordraagbare siektes op te doen, is dubbeld soveel soos dié van ander vroue.
Ander probleme wat met hierdie geweld verband hou, is ongewenste swangerskappe, aborsies en babas wat by geboorte ondergewig is.
Die verslag het verder bevind 38% vroue wat regoor die wêreld vermoor word, word deur hul intieme maats vermoor.
“Dis tyd dat ons definitiewe stappe neem teen hierdie pandemie in Suid-Afrika en die res van die wêreld,” het prof. Salim Abdool Karim, president van die Mediese Navorsingsraad, gesê.
Nuwe Wêreldgesondheidsorganisasie-beleidsriglyne sal in plek gesit word om gesondheidswerkers se kennis oor seksuele en ander vorme van geweld te verbeter, sodat hulle vroue wat deur hul maats mishandel word, kan bystaan.
ʼn Poging sal aangewend word om vroue en meisies ekonomies en deur opleiding te bemagtig, het dr. Naeemah Abrahams, adjunk-afdelingshoof van die geslagsgesondheidsafdeling by die Mediese Navorsingsraad, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.