ʼn 24-jarige man is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem nadat hy amok gemaak het by ʼn huis in The Reeds in Centurion.
Kapt. Agnes Huma, ʼn polisiewoordvoerder van die Wierdabrug-polisiestasie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die verdagte wou na bewering omstreeks 15:30 die huishulp by die huis verkrag en dat hy buite die huis in ʼn bakleiery betrokke geraak het.
Die Wierdabrug-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), waaronder The Reeds val, het gou ingetree nadat lede hulle in kennis gestel het. Die man is in hegtenis geneem en moet binnekort in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding, poging om te verkrag, en opsetlike saakbeskadiging.
Maroela Media het Dinsdagaand berig die flinke optrede van lede van dié GPF het twee vroue van aanranding en moontlike verkragting gered nadat hulle ʼn kaal man in ʼn erf aangekeer het. Lees meer hier.