Flooze vertel van noue ontkoming en “vlammehel”

Sorina Erasmus, ook bekend as die Flooze

Sorina Erasmus, ook bekend as die Flooze

Pretoria se Sorina Erasmus, oftewel die Flooze, se kuier Sondag saam met “hartsvriende” by Loskopdam het amper noodlottig geëindig.

Sorina het Maandag op haar Facebook-blad gesê sy wil graag die omstandighede rondom die fratsongeluk met die wêreld deel, sodat almal kan ervaar “hoe groot God se genade was in n fratsongeluk wat baie traumaties kon geëindig het as Hy nié Sy hand van beskerming oor almal daar gehou het nie”.

Volgens Sorina, wat 25 weke swanger is met haar en haar man, Braam Riekert, se eersteling, het hulle heerlik saam met hul vriende “gechill, gekuier, gelag en geëet” en was die weer fantasties by die dam.

“Toe dit tyd word om ‘n vleisie te braai, het almal ingespring en gehelp met die feesmaal van mieliepap, aartappels in foelie en mieliebrood, alles wat ons laggend en lekker besig was om voor te berei in ons vriende se 2×2 meter kombuistentjie wat direk agter die klomp slaaptente en kuiertent opgeslaan was,” het sy gesê.

Volgens Sorina het daar ʼn nuwe gasbraaier langs die tentkombuis gestaan waarop ʼn pot pap besig was om te prut.

“Tannie Alfina was besig om die pap te roer en ʼn proe te gee, ek het die sout en peper direk langsaan uitgehaal en dit was op daardie presiese oomblik toe ons twee in die tentkombuisie staan dat die onmoontlike skielik gebeur… ons vermoed die gassillinder se pyp het skielik uitgetrek. Gas spuit die wêreld vol en slaan aan die brand. Die vlamme verswelg die gas in n vlammehel wat aan die hemel begin lek. Die pyp slaan dadelik aan die brand en die vlamme hardloop af na die gassillinder wat in vuur gedompel word, vlamme van bo tot onder waar jy kyk. Ek sien die vuurbolle en hardloop weg van die vlamme maar beland toe in die hoekie van die tentkombuis waar ek vasgekeer is tussen die elektriese yskas en die vlamme.”

ʼn Vriend, Ivy Kruger, het toe geskree “hardloop hardloop, die gasbottel gaan ontplof!”

“Instinktief het ek geweet ek moet uit die hoekie kom, want die sillinder was letterlik twee meter van my af. Ek weet nie hoe ek daar uitgekom het nie, ek is oortuig daarvan die Engele het my gedra,” het sy bygevoeg.

“Maar die einde was nog nie in sig nie. Net toe ek uit die kombuis hardloop verby die vlamme, val ek en land teen een van die slaaptente wat direk langsaan was. Alles het so vinnig gebeur. Volgende oomblik is tannie Alfina by my om my te help opstaan, want ek het myself ‘half disnis’ geval.”

Sorina en die mense kon daarin slaag om weg te hardloop van die gevaar en sy het slegs ʼn besering aan haar sleutelbeen opgedoen.

Sorina sê Ivy, wat opgelei is vir rampsituasies in fabrieke, het na die vlamme gehardloop en die tente se seile afgeruk om te probeer om die brand onder beheer te kry, waarna die mans water oor die vlamme gegooi het om dit te probeer blus. “Hulle het hulle lewens gewaag, hulle is helde wat medaljes verdien. ‘n Aardse engel uit die hemel het êrens van ver te voorskyn gekom met ‘n poeier brandblusser en die vlamme geblus. Die water het nie gehelp nie, want die paraffien was reeds aan die brand en elke keer as daar water gegooi word, brand die vlamme voort weens die paraffien.”

Sy sê dis ʼn wonderwerk dat niemand beseer is nie, en dat die gasbottel wat in die middel van die brand was, nie ontplof het nie.
Klik hier om haar volle getuienis te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jj els ·

Sonja, dankie dat jy uitgesproke is oor waar julle beskerming vandaan gekom het. GOD beskerm die wat by Hom skuil en aan Hom die eer gee. Sterkte met jou swangerskap. Ek vertrou die baba is ongedeerd.

Ria Maritz ·

Wat ‘n pragtige getuienis !

GOD IS GROOT, ALLE EER AAN HOM !

frikkie ·

Daarom moet die caveman geleer word in sulke situasies en nie die genie nie, want die oomblik wanneer kritieke situasies opduik verstar die genie en die caveman moet optree, as hy nie geleer is nie dan sal hy saam verstar. Daarom is Ivy opgelei om die caveman te kry om op te tree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.