Floyd Shivambu uit ANC-jeugliga geskors

Floyd Shivambu

Die ANC-jeugliga se nasionale taakspan (NTT) het die jeugliga se voormalige woordvoerder, Floyd Shivambu, geskors, het die NTT Dinsdag gesê.

“Shivambu het dit sy voltydse taak gemaak om die organisasie en sy leierskap te ondermyn,” het Mzwandila Masina, sameroeper, in Johannesburg aan verslaggewers gesê. “Ons waarsku enigiemand anders wat dieselfde anargie-paadjie wil volg dat ons nie net op ons louere gaan rus en toeskouers word terwyl hulle blatant ons organisasie ondermyn nie.”

Hy sê die besluit is deur die ANC-jeugliga NTT geneem, en nie deur die ANC nie. Die NTT het glo sy besluit met Gwede Mantashe, sekretaris generaal van die ANC, bespreek. “Ons praat nie namens die ANC nie, ons praat oor die besluit wat ons as ANC-jeugliga geneem het.”

Shivambu is in 2012 vir drie jaar lank uit die ANC en ANC-jeugliga geskors.

Die voormalige woordvoerder het onlangs baie uitgesproke geraak in sy siening jeens die ANC, pres. Jacob Zuma en die ANC-jeugliga NTT deur verklarings namens die sogenaamde Ekonomiese Vryheidsvegters, ʼn politieke platform wat onlangs deur Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, bekendgestel is.

Masina sê Shivambu het homself buite die ANC-jeugliga en sy moederliggaam posisioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.