Fluitjieblasers se inligting uitgelek na kuberkraak

Die persoonlike inligting van duisende fluitjieblasers het uitgelek nadat Suid-Afrikaanse Polisiediens se webtuiste deur kuberkrakers aangeval is.

Die polisie en alle ander staatsdepartemente se webwerwe word deur die staat se inligtingstegnologie-agentskap (Sita) bedryf. Daniel Mashao, afdelingshoof by Sita, sê die inligting wat fluitjieblasers oor beweerde misdade verskaf het, is per ongeluk op die webtuiste gelos. Hy sê die data word op ʼn openbare bediener versamel en dat die inligting na die tyd verwyder moes word. “Ons het die funksionaliteit van die polisie se webwerf aangepas om mense toe te laat om meer inligting te verskaf.” Mashao sê daar is egter nie gekyk hoe veilig die webwerf vir so iets was nie. Mashao sê die inligting van sowat 15 000 fluitjieblasers het uitgelek. Mashao sê meeste van die inligting is anoniem ingedien. Hy sê hulle is wel bekommerd dat daar mense is wat meer besonderhede verskaf het oor beweerde misdade en dat die inligting uitgelek het.

Lt.genl. Bonginkosi Ngubane, afdelingskommissaris van die polisie se tegnologiebestuursdienste, sê geen inligting oor misdaadsake het uitgelek nie. “Ek glo regtig nie dat die situasie handuit geruk het nie. Die inligting (wat van die polisie se webtuiste afgelaai is) sal so gou as moontlik van webtuistes waar dit onwettig gepubliseer is verwyder moet word.” Die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en Sita ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.