Fopoproep-verpleegster dood aangetref

Prins William en Kate Middleton buite die hospitaal net nadat sy Donderdag ontslaan is.

Die verpleegster by die hospitaal wat tydens ‘n fopoproep sensitiewe inligting oor Kate Middleton aan radio-aanbieders gegee het, is dood aangetref.

Prins William en Kate, hertog en hertogin van Cambridge, het in ‘n verklaring gesê hulle is “baie hartseer” om die nuus te verneem. Die verpleegster, Jacintha Saldanha, is deur die King Edward VII-hospitaal as ‘n “uitstekende verpleegster” beskryf wat “’n slagoffer van ‘n fopoproep” was. [Die klankgreep van die fopoproep was op YouTube beskikbaar, maar is intussen verwyder.]

Die twee platejoggies, van Sydney in Australië, het hulself as die koningin en prins Charles voorgedoen. Die radiostasie is tans besig om ‘n verklaring oor die voorval uit te reik.

Kate is Maandag vir erge oggendnaarheid in die hospitaal opgeneem en is Donderdag ontslaan. Klik hier vir ‘n video van die ontslag.

Peter Hunt, koninklike korrespondent van BBC, het gesê Saldanha was slegs die verpleegster wat die oproep om 05:30 beantwoord het, en nie die persoon wat die inligting aan die omroepers bekendgemaak het nie. Saldanha was na die voorval nie geskors of onderworpe aan dissiplinêre stappe nie.

Scotland Yard se beamptes is Vrydagoggend omstreeks 09:35 ontbied nadat ‘n vrou glo bewusteloos by ‘n huis in sentraal Londen aangetref is. Die verpleegster het glo selfmoord gepleeg en die afsterwe word nie as verdag beskou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.