Bykans 10 000 Ford Figo-eienaars in Suid-Afrika moet hul voertuie by motorhandelaars indien nadat dié maatskappy die motors herroep het.
Die maatskappy het glo foutiewe onderdele ontdek wat tegniese probleme of ‘n brand kan veroorsaak. Ford herroep voertuie wat tussen September 2010 en Februarie 2012 verkoop is. Die motoriste sal egter nie vir die herstelwerk hoef te betaal nie. Geen beserings is tot dusver weens die foutiewe onderdele aangemeld nie. Die Figo, Ford se intreevlak-voertuig, word in Indië vervaardig en in Suid-Afrika verkoop. Sowat 111 000 voertuie in Indië is teruggeroep. Rella Bernardes, woordvoerder vir Ford in Suid-Afrika, het gesê die vervangingsonderdele behoort binne die volgende twee weke in die land te wees. Die maatskappy sal die betrokke klante kontak, maar is glo “voorbereid op oproepe van bekommerde klante”.
Die Figo is in 2010 vrygestel en verkoop plaaslik meer as 1 000 voertuie per maand.