Foto: Baba op SAL-vlug gebore

Die foto is deur ‘n passasier op Facebook gelaai.

ʼn Babaseuntjie is die naweek op ʼn SAL-vlug tussen Johannesburg en New York gebore.

“SAL kan bevestig dat een van sy passasiers geboorte gegee het op vlug SA203 wat Saterdag van Johannesburg vertrek het,” het Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, in ʼn verklaring gesê. Tlali sê die vrou het sowat vier ure nadat die vliegtuig opgestyg het in kraam gegaan. “Twee dokters en ʼn verpleegster het die vrou bygestaan terwyl die bemanningslede die moontlikheid ondersoek het om die vlug te herlei na lughawens in Wes-Afrika.” Tlali sê die ma en baba was egter stabiel na die geboorte en daar is besluit om nie die vlug te herlei nie. Die ma en kind is met hul aankoms by John F Kennedy Internasionale lughawe deur paramedici behandel. Die New York Daily News het die vrou geïdentifiseer as die 17-jarige Fatawmatt Kaba. Volgens die berig is Kaba se seuntjie se naam Mamel Joella.

Tlali sê volgens ʼn voorlopige ondersoek het die vrou nie bekend gemaak dat sy swanger was nie. Volgens SAL se beleid moet slegs verwagtende ma’s wat komplikasies ervaar mediese goedkeuring kry om te vlieg. Verwagtende vroue kan tot op 36 weke plaaslik vlieg en tot 35 weke internasionaal. Alle verwagtende passasiers moet egter ʼn brief van hul ginekoloog voorsien waarin die termyn van die swangerskap en enige ander mediese toestande aangedui word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.