Foto: Drie vas ná wilde jaagtog deur Pretoria

Drie persone verskyn Maandag in die Pretoria-landdroshof nadat hulle Vrydag tydens ʼn wilde jaagtog deur Pretoria se middestad gebots en twee voetgangers raakgery het.

Ao. Annabelle Middleton, ʼn polisiewoordvoerder, sê lede van die Villieria-polisie het Vrydag omstreeks 15:00 ʼn verdagte voertuig gesien en dit genader. “Die bestuurder van die Mazda 323 het die polisie gesien en weggejaag. Die polisie het die verdagtes agterna gesit. Die bestuurder van die Mazda het glo beheer oor die voertuig verloor en op die hoek van Prinsloo- en Boomstraat die pad verlaat, twee voetgangers getref en amper teen ʼn salon se muur gebots,” het Middleton gesê.

Die polisie het beslag gelê op die voertuig, wat vermoedelik gesteel is. “Die polisie het ook beslag gelê op gereedskap wat gebruik word om by voertuie en huise in te breek. Die drie verdagtes, tussen 26 en 39 jaar oud, word aangekla van die besit van gesteelde goedere en die besit van huis- en voertuiginbraaktoerusting. Die bestuurder word ook aangekla van roekelose en nalatige bestuur,” het Middleton bygevoeg.

Die beseerde voetgangers is na die Tshwane-distrikshospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.