Foto: JHB-skietery bring M1 tot ʼn stilstand

'n Foto van die toneel. Foto: @POWER987News

‘n Foto van die toneel. Foto: @POWER987News

ʼn Skermutseling tussen ‘n taxibestuurder, -passasier en die polisie op die M1-snelweg naby die Killarney-winkelsentrum in Johannesburg, het verkeer in die gebied Dinsdag so te sê tot ʼn stilstand gebring.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het op die M1-Suid gebeur en een persoon is in die skietery gewond. “Die polisie het ʼn minibustaxi by ʼn taxistaanplek in Pretoria genader ná ʼn oproerigheid by die voertuig plaasgevind het,” het Dlamini gesê. Die bestuurder het ewe skielik van die toneel af weggejaag, waarna die polisie hom agterna gesit het. Nog hulp en die polisie se helikopter is ontbied.”

In ‘n poging deur die helikopter om die taxi tot ʼn stilstand te bring, het die taxi teen drie polisievoertuie gebots. “Insittendes van die taxi het toe op die polisie losgebrand. Die polisie het teruggeskiet. Die minibustaxi het uiteindelik by die Joe Slovo-afrit tot stilstand gekom. Twee mense het uitgeklim en probeer weghardloop.”

Die bestuurder is in sy bobeen geskiet toe hy wou vlug en is in hegtenis geneem. Die passasier kon egter daarin slaag om te vlug. “Die polisie vermoed die passasier het op die polisie geskiet. Ons het sy besonderhede en is tans op soek na hom,” het Dlamini bygevoeg.

Die bestuurder gaan aangekla word van opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en is onder die polisie se bewaring.

Daar word vermoed dat die voorval aan taxigeweld verbind kan word.

Die M1-Suid was teen 14:00 nog gesluit vir verkeer sodat die polisie hul ondersoek kan voltooi. Verkeer word herlei. Vir meer foto’s wat deur verslaggewers van JacarandaFM geneem is, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.