ʼn Foto van ʼn jong Italiaanse vrou wat ʼn polisiebeampte se valhelmskerm tydens ʼn betoging soen, het opslae gemaak op sosiale media, maar ʼn polisievakbond dreig om haar nou vir “seksuele geweld” te dagvaar.
Nina de Chiffre, ʼn 20-jarige student, het die polisiebeampte, Salvatore Piccione, tydens ʼn betoging oor ʼn nuwe hoëspoedspoorlyn in die Alpe, gesoen. ʼn Fotograaf van AFP het die foto geneem.
Talle het haar gedrag as liefdevol beskryf en dit is wyd op sosiale media versprei, alhoewel die fotograaf Marco Bertorello en De Chiffre self gesê het dit was gedoen as ʼn bespotting.
Duisende betogers het op 16 November in die prentjiemooi Val di Susa bymekaargekom waar dié omstrede spoorlyn tussen Frankryk en Italië gebou word.
Franco Maccari, hoof van die COISP-polisievakbond, het vroeër vandeesmaand onderneem om die betoger [De Chiffre] te dagvaar vir “seksuele geweld en minagting van ʼn staatsamptenaar”.
Staatsaanklaers het egter aan AFP gesê hulle het tot dusver nog nie ʼn dagvaarding ontvang nie, maar aangedui dat ʼn dagvaarding binne 90 dae van die betoging ingedien kan word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Sy kan my met graagte n “soenkie” gee, ek sal haar nie aankla nie.
Ek eet nooit weer spagetti as sy aangekla word.
Die sg. slagoffer lyk vir my heel in sy skik met die aandag wat hy kry. Ek kan nie sien hoe dit as “seksuele geweld” beskou kan word nie. Ek was in my jong dae ook `n polisieman. Sulke gelukkies kom maar selde op `n man se pad, veral as die jonge dame so mooi is.