ʼn Man is beseer nadat hy Woensdagaand in ʼn fratsongeluk tussen twee swaarvoertuie vasgepen is by ʼn vragmotorstaanplek op die N1-snelweg naby Bloemfontein.
Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het Donderdag gesê die fratsongeluk het omstreeks 20:30 plaasgevind. “Die bestuurder van die swaarvoertuig het sy vragmotor vir die aand parkeer en was besig om uit die voertuig te klim, toe ʼn ander swaarvoertuig te naby aan hom ingedraai het om ook te parkeer,” het Jackson gesê.
“Die bestuurder van die ander voertuig het glo nie die man gesien nie. Die bestuurder is in die deur van sy eie vragmotor en die ander swaarvoertuig se vraghouer vasgepen en kon nie loskom nie.”
Die man se kop was in sy vragmotor se deur vasgeklem terwyl sy nek teen ʼn staalpyp aan die kant van die vragmotor gedruk het.
“Toe paramedici by die toneel opdaag het die man gesukkel om asem te haal. Hulle het hom dadelik begin behandel en kon daarin slaag om die deur effens oop te trek sodat die drukking op sy nek verlig kon word en hy weer normaal kon asem haal,” het sy gesê.
Nadat die man bevry is, het paramedici hom ondersoek en gesien hy het net beserings aan sy skouer opgedoen. “Hy is in ʼn ambulans in ‘n stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en is later die aand reeds ontslaan,” het sy bygevoeg.
Kan jy so gelukkig wees om nie meer beserings op te doen of selfs kon gesterf het.
Sjoe! Hy is baie gelukkig om te kon oorleef.
Dis wat hulle noem ‘n noue ontkoming
Wonder wats die storie van die ander vragmotor bestuurder,,,,,,,,,,,!