Foto: Ontmoet vir ‘Baba Buccleuch’

‘n Trotse Zameer saam met klein Haadiyah

‘Baba Buccleuch’, soos sy gister in die sosiale media gedoop is, is ʼn gesonde babadogtertjie.

Die pienkvoetjie het gister vir groot opwinding gesorg by die Buccleuch-wisselaar in Johannesburg nadat haar ma begin kraampyne kry het en ʼn ambulans haar moes kom oplaai en na die Genesis-kliniek in Saxonwold vervoer. Zameer Ahmed, die kleinding se pa, het vanoggend aan Maroela Media gesê dat hy en sy vrou Sadikah omstreeks 6:15 van hul huis in Pretoria vertrek het op pad na die Genesis-kliniek nadat sy vrou begin kraampyne kry het. “Ons het gedink ons sal dit betyds tot by die hospitaal maak maar die verkeer was gisteroggend baie erg. Ons het ʼn SMS-boodskap na die radiostasie 94.7 Higveld-stereo gestuur en gevra of hulle dalk net vir hulle luisteraars hiervan kan sê en sodoende miskien met die verkeer kan help.”

Aanbieders van die radiostasie se ontbytprogram het ʼn ambulans van die privaat mediese nooddiens Emer-G-Med ontbied en aan die egpaar gesê om by die Buccleuch-wisselaar te wag. Die ambulans het Sadikah gaan oplaai en na die Genesis-kliniek geneem. Zameer het sowat twee ure later by die hospitaal aangekom aangesien hy met sy eie motor tot daar moes ry en nog in die verkeer vasgesit het. Zameer sê hulle dogtertjie is omstreeks 12:45 gistermiddag gebore. “Haar naam is Haadiyah. Ons het die naam reeds drie maande terug gekies. Ons het gedink om haar middelnaam dalk Buccleuch te maak maar dit pas ongelukkig nie by ons Indiese erfenis nie. Ons sal dit egter nooit vergeet nie.” Zameer sê Haadiyah is ʼn pragtige en gesonde dogtertjie hoewel sy ʼn week vroeg gebore is. Hy het sy dank aan 94.7 en Emer-G-Med uitgespreek vir hul hulp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.