Foto: PTA-blitspatrolliebeampte sterf ná vragmotor teen polisiekar bots

Sersant Jacobus Andries Booysens (35), ʼn beampte van die Pretoria-blitspatrollie, is Maandagaand dood nadat ʼn vragmotor teen sy diensvoertuig gebots het. Ao. Lucius Leeu Plaatjies (48), ‘n kollega wat saam met hom in die voertuig was, het ernstige beserings opgedoen en word in die Netcare Montana-hospitaal behandel.

Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 21:30 op die N1-snelweg naby die Carousel Tolplaza plaasgevind.

“Na wat verneem word, het die beamptes aan die kant van die snelweg in hul polisievoertuig, ʼn Golf GTI, stilgestaan. Booysens was in die bestuurdersitplek. Die bestuurder van die vragmotor het vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor en van agter teen hulle gebots. Die voertuig is vir omtrent 300 meter ver gesleep voor dit vasgepen tussen ʼn boom en die vragmotor tot stilstand gekom het,” het Dlamini aan Maroela Media gesê.

Booysens was vir sowat twee ure lank in die wrak vasgepen en moes uit die voertuig gesny word. Hy het erge hoof-, heup- en beenbeserings opgedoen en het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Plaatjies het arm en gesigbeserings opgedoen.

Die vragmotorbestuurder het geringe beserings opgedoen en is na die Jubilee-hospitaal geneem.

ʼn Saak van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur word ondersoek. “Die bestuurder van die vragmotor is nie in hegtenis geneem nie. Ná die ondersoek afgehandel is, sal die openbare vervolger besluit wat gedoen moet word,” het Dlamini gesê.

Dit is in die stadium nie bekend of die polisievoertuig se noodligte aan was nie. ʼn Betroubare bron wat saam met Booysens gewerk het, het gesê die vragmotorbestuurder het vermoedelik agter die stuurwiel aan die slaap geraak. “Booysens was ʼn goeie polisieman wat sy storie geken het. Die hele blitspatrollie-eenheid is erg deur sy dood geskok,” het die beampte aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.