Foto: Uitsonderlike blou diamant by Cullinan gevind

Die nuwe bloudiamant

Die nuwe blou diamant

ʼn Seldsame blou diamant van 29.6-karaat is in die Cullinan-myn, oos van Pretoria, gevind.

Die maatskappy, Petra Diamonds, het Dinsdag gesê die diamant is moontlik in ʼn klas van sy eie. “Die uitsonderlike helder blou steen is verlede week in die myn ontdek en kan ʼn gepoleerde steen van groot waarde en belang oplewer,” het Cathy Malins, die maatskappy se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

“Wanneer ʼn mens ʼn item het wat só mooi, seldsaam en ʼn versamelstuk is, is dit moeilik om te raai wat ʼn koper bereid sou wees om daarvoor te betaal. Ons is baie opgewonde oor die potensiaal van die diamant, want dit is in ʼn klas van sy eie.”

Petra het in April 2013 ʼn blou diamant van 25.5-karaat vir $16.9 miljoen (ongeveer R183 miljoen) verkoop. Dit is gelykstaande aan $663 000 (bykans R7.2 miljoen) per karaat, die hoogste prys wat nog ooit in die maatskappy se geskiedenis per karaat vir ʼn diamant betaal is.

Die wêreld se grootste diamant, genaamd die “Cullinan”, is in 1905 by Cullinan-myn uitgehaal. Dié steen van 3 106 karaat is in twee groot stukke gesny wat nou deel is van die Britse kroonjuwele.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.