Foto van ontvoerde SA man in Mali bring hoop

ʼn Foto van ʼn Suid-Afrikaanse man wat verlede maand in Mali ontvoer is, is Vrydag aan die land se regering gegee deur sy ontvoerders.

The Star berig dat die foto Vrydag aan owerhede gegee is deur die Noord-Afrika tak van Al-Kaida, wat verantwoordelikheid vir die ontvoering geneem het. Die foto het nuwe hoop gegee aan die 36-jarige man se gesin. “Dit was maar moeilik die afgelope paar weke, maar ons hoop ons seun sal tuis wees vir Kersfees”, het sy pa aan die koerant gesê. Die man en twee van sy vriende, ʼn Nederlander en ʼn Sweed, is op 25 November ontvoer nadat ʼn groep gewapende mans by ʼn restaurant in Timboektoe ingebars het en hulle beveel het om in ʼn vragmotor te klim. ʼn Duitse burger het glo geweier en is na bewering doodgeskiet. Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het herhaaldelik geëis dat die man se identiteit nie bekendgemaak word nie aangesien dit glo onderhandelinge met sy ontvoerders in die wiele kan ry. Daar is nog geen losprys vir die man geëis nie. Sy pa glo dat die ontvoering ʼn polities van aard was. Al-Kaida het in ʼn verklaring gesê die ontvoering is gedoen om wraak te neem vir onlangse aanvalle op die groep in Mali. Die groep het ook erken dat op 24 November twee Franse toeriste in Mali ontvoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.