Fotograaf afgedank oor gemanipuleerde foto van Kaboel-bomaanval

Die illustrasie wys die oorspronklike foto van AFP (bo) en die foto wat The Citizen op sy voorblad geplaas het. Maroela Media het wel die lyke waserig gemaak aangesien dit van ‘n baie grafiese aard is

ʼn Fotograaf wat die aandag daarop gevestig het dat The Citizen ʼn digitaal gemanipuleerde foto van die selfmoordbomaanval in Kaboel, Afganistan op sy voorblad geplaas het, is met onmiddellike effek afgedank.

Mail & Guardian berig dat Johann “Slang” Hattingh kort na die dagblad gepubliseer is op Twitter uitgevaar het. Hattingh is dissiplinêr verhoor nadat hy daarvan aangekla is dat hy die maatskappy se naam in oneer gebring het en dat hy die vertrouensverhouding tussen die werkgewer en werknemer onherstelbaar beskadig het. Hy is vroeër vanmiddag van sy afdanking in kennis gestel. Hattingh het in Augustus by The Citizen begin werk. Die publikasie van die gemanipuleerde foto het wye reaksie op sosiale media uitgelok. Lees meer hier.

Die dagblad het na die voorval in ʼn verklaring gesê daar is besluit om die foto van AFP te manipuleer deur die lyke op die foto waserig te maak aangesien dit te gruwelik was om in die oorspronklike vorm te publiseer. Die lyke op die foto’s is egter heeltemal uit die foto verwyder. Die Nasionale Persklub het gesê die manipulering van nuusfoto’s is teen die reëls van etiese joernalistiek. “Ons glo die Citizen moes eerder ʼn ander foto gebruik het indien hulle nie die lyke op die foto wou publiseer nie,” het Antoinette Slabbert, woordvoerder van die Persklub, gesê.

Agt Suid-Afrikaners is in verlede week se bomaanval dood.’n Afgaanse insurgensiegroep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die aanval was glo uit wraak vir ‘n Amerikaans vervaardigde rolprent wat die profeet Mohammed verkleineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LJRoodt ·

So much so for freedom of speech. Why publish a picture if you don’t want to publish the original??

Suki ·

Wow dis onregverdig om die ou af te dank!! Dit laat jou dink dat jy maar ook stil moet bly oor oneerlikheid – maar mens kan in elk geval nie alles glo wat jy lees, sien of hoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.