Fotograaf van Kaapstad soek miljoene by Elton John oor beweerde plagiaat

Sir Elton John

ʼn Fotograaf van Kaapstad het ʼn hofaansoek in Amerika ingedien waarin hy beweer dat Sir Elton John sy liedjie se lirieke gesteel het.

Die Sunday Times berig dat Guy Hobbs van plan is om Elton John, liriekskrywer Bernie Taupin en die maatskappy Big Pig Music vir plagiaat en tantièmes te dagvaar, aangesien hul liedjie Nikita soortgelyke lirieke bevat vir ʼn liedjie wat hy geskryf het, genaamd Natasha. Hobbs sê hy het meer as 25 jaar gewag voordat hy besluit het om die saak na die Amerikaanse Streekshof in Chicago, Illinois, te neem, aangesien hy gehoop het John en Taupin sou hom ʼn skikkingsbedrag aanbied.

Hobbs sê hy glo Nikita het reeds meer as $15 miljoen sedert die liedjie in 1985 uitgereik is, verdien en hy wil ten minste ʼn derde van dié fondse hê. “Ten spyte van die groot sukses het Elton en Bernie nog nooit baie oor die liedjie gepraat, of gesê waar die inspirasie vandaan gekom het nie.”

Hobbs beweer ook dat hy die liedjie wat reeds in 1985 ʼn treffer was, se lirieke eers in 2001 gehoor het. Hobbs sê hy het in 1984 sy lirieke aan ʼn aantal musiekuitgewers, insluitend Big Pig, gestuur. Hy sê hy kan die egtheid van sy eis bewys, aangesien hy ʼn ongeopende geregistreerde brief van die werk wat hy aan homself in Mei en November 1983 gestuur het, gehou het.

Hobbs, wat in Australië gebore is, beskryf in die hofaansoek sy eerste werk in 1982 was as ʼn fotograaf op ʼn Russiese passasierskip, die Taras Shevchenko, nadat hy fotografie in die Verenigde Koninkryk studeer het. Hy het verlief geraak op ʼn Sovjek-kelnerin, Natasha. Die verhouding was egter verdoem, alhoewel Hobbs die skip kon verlaat, moes Natasha agterbly.

ʼn Woordvoerder vir John en Taupin sê Hobbs se eis is ongegrond en dat sy kliënte “verras en teleurgesteld” was deur die dagvaardiging. ”Kortliks, die eis dra geen water nie. Die feit dat Hobbs 26 jaar ná die uitreiking van Nikita besluit het om sy hofsaak te bring trek sy motiewe in twyfel.”

Nikita is een van Sir Elton John se gewildste liedjies en een van sy grootste treffers. Dit is ʼn ballade oor die onmoontlike liefde tussen ʼn Westerse man en ʼn Oos-Duitslandse vrou midde die Koue Oorlog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.