Foto’s: 14 sterf toe Mpuma-brug meegee

Foto: ER24 EMS

Veertien mense is dood nadat ‘n brug op die R65 tussen Lothair en Ermelo in Mpumalanga weens swaar reën meegegee het.

“Drie voertuie, waarvan een ‘n taxi is, was in die ongeluk betrokke,” het Joseph Mabuza, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, gesê. “Die laagwaterbrug oor die dam het meegegee. Die motors het oor die brug gery en is deur die vloedwater meegesleur.”

Die brug het Maandagaand omstreeks 21:50 meegegee en ses mense is dadelik dood en ander is vermis. “Die polisie het die vermiste liggame opgespoor,” het Mabuza gesê. “Die pad na Lothair is gesluit en sal slegs vir inwoners toeganklik wees.”

Motoriste word aangeraai om die R33, N17 en die Ermelo/Mpuluzi-pad as alternatiewe roetes te gebruik. “Die weerburo voorspel nog swaarreën in die provinsie en motoriste word gemaan om versigtig te wees, veral wanneer hulle water op die padoppervlak sien,” het Mabuza bygevoeg. “Hulle moet stop en ondersoek instel, aangesien dit gevaarlik kan wees om verder te ry.”

Foto: @ColBen_BreEzY op Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.