Foto’s: 19 walvisse strand in Kaapstad

Gestrande walvisse by Noordhoek in Kaapstad Foto: Facebook

Negentien loodswalvisse het Sondagoggend by Noordhoekstrand in Kaapstad gestrand.

“Vyf van die walvisse is dood,” het Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die stad se noodbestuureenheid, gesê.

“Ons poog steeds om die walvisse, wat oorleef het, te red,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, gesê. “Ons probeer om hulle weer in die water te kry, en oorweeg om hulle na die vlootbasis in Simonstad te neem en daar in die water vry te laat. In hierdie stadium hou ons hulle lewend met water en komberse op die strand.”

Lambinon doen ‘n beroep op die publiek om van die strand af weg te bly, aangesien daar meer as genoeg personeel op die toneel is. Volgens twiets op Twitter is die strand vir die publiek gesluit.

“Ek dink nie ons het al ooit so groot groep loodswalvisse aan die Suid-Afrikaanse kus sien strand nie,” het ‘n marinebioloog, wat om professionele redes nie sy naam wou gee nie, gesê.
Volgens die kundiges is die groep walvisse moontlik langvin-loodswalvisse wat meer in die suidelike halfrond voorkom.

Marinebioloë verstaan nie ten volle waarom walvisse gestrand raak nie. “Een van die teorieë is dat een van die leiers van die groep in vlak water vasval,” het Mike Anderson-Reade, bedryfshoof by die Haairaad in KwaZulu-Natal, gesê. “Die res van die groep raak dan gedisoriënteer en beland op die strand.” Nog ‘n teorie is dat, wanneer een van die leiers van die groep siek word, hy strand en die res volg hom. “Maar dit is alles net teorieë, die rede is nog onduidelik.”

Langvin-loodswalvisse kan tot ses meter lank word en kan meer as twee ton weeg.

Gestrande walvisse by Noordhoek in Kaapstad Foto: NSRI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.