Foto’s: 6 dood, 8 beseer in N3-ongeluk

Foto: ER24 Facebook

Nog foto’s volg onderaan die berig

Ses mense is dood en agt mense beseer tydens ‘n ongeluk Maandagaand by Hammarsdale-afrit op die N3 buite Durban.

“’n Motorfiets, twee sportnutsvoertuie en ‘n ligte motorvoertuig het net voor 20:00 in mekaar vasgery,” het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê. “Een van die drie motors, vermoedelik ‘n Toyota Tazz, is in die helfte geskeur. Die motorfietsryer en vyf insittendes van die ligte motor is almal op die toneel dood verklaar. Die insittendes van die twee sportnutsvoertuie is vir nek- en rugbeserings behandel. Hulle is op die toneel stabiliseer en na Hillcrest-privaathospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.”

Volgens Banks het die wrakstukke sowat 150m ver oor die pad gestrooi gelê. Die ongeluk het in ‘n noordelike rigting voor die Hammarsdale-afrit plaasgevind. Alle bane van die snelweg tussen Hammarsdale en Cato Ridge was tydelik vir verkeer gesluit. Die verkeer is na die R103 herlei. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, aangesien ooggetuies se weergawe van die gebeure glo nie ooreenstem nie. “Die betrokke owerhede is op die toneel om die ongeluk verder te ondersoek,” het Banks bygevoeg.

Foto: @ER24EMS op Twitter

Foto: @nontobek0Sibisi op Twitter

Foto: ER24 Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie Kriel ·

Dit is dié soort menseslagting op ons paaie wat my en my gesin daarvan weerhou om gedurende Paasfees
van die huis af weg tge gaan, behalwe dat ons deelneem aan die Nagmaalsdiens op Goeie Vrydag en die
erediens op Opstandingsondag. Dit is tog die minste wat ons kan doen om die kruisiging, die begrafnis en die liggaamlike opstanding van Jesus Christus, ons Here,te gedenk. In stede daarvan, spring duisende van ons mense in hul voertuie en jaag na vakansie-oorde (asof dié sal weghardloop!) juis op die twee dae wat die kern van die Paasfees uitmaak. En elke jaar herhaal die storie homself!
In ‘n poging om reg te laat geskied aan die betekenis van hierdie Goddelike ingryping in die mens se bestaan op aarde en daarná, het Afrikaanse kerke al by die vorige regering gepleit om die Maandag na Paasfees as vakansiedag af te skaf, maar sonder sukses. In Radio Pretoria se Nuuskommentaar van 1 April oor hierdie aangeleentheid word die stelling gemaak: “Die huidige regering kan van baie dinge beskuldig word, maar een ding wat hulle sommer nie sal doen nie, is om openbare vakansiedae minder te maak”. In die jaar 2013 is daar nie minder nie as 13 “wil-nie-werk-dae” – sover ek kan vasstel, is dit die meeste van alle lande (wat as “beskaafd” kan deurgaan). Die gevolglike verlies aan nasionale produksie plus die koste van padongelukke (versekeringseise, eise teen die Padongelukke-fonds, verlies aan huidige en toekomstige inkomste van slagoffer-broodwinners, mediese en hospitaalkostes, die koste van die onderhoud van weduwees en wese, ens, ens) is onberekenbaar maar moet in miljarde Rand gestel word,

Paul ·

Danie – daar is in der waarheid geen styging in noodlottige padongelukke in Maart of April (die twee maande waarin Goeie Vrydag kan val) nie.
Dis ‘n media-storm oor niks. Daar is nie ander nuus om oor te berig gedurende daardie tyd nie, wat padongeluk-artikels meer prominent maak.

Al noemenswaardige verandering in noodlottige padongelukke tydens die Paastyd kan wees dat die ongelukke voorkom op plekke waar dit gewoonlik nie so algemeen is nie. Met ander woorde – iemand verongeluk op die grootpad, op pad na ‘n vakansiebestemming, eerder as op pad werk toe.

Selfs in Desember is die styging in noodlottige ongelukke maar slegs sowat 20% in vergelyking met die ander maande van die jaar.

Die “moral of the story” is – daar is gedurigdeur ‘n “slagting” op die paaie – Paasnaweek en Kerstyd is nie buitengewoon nie, selfs al laat die media dit so lyk.

hardus fourie ·

spoed maak dood en hier was spoed betrokke,mas verkeerd wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.